General

2 Jong jagluiperdmannetjies vir Rietvlei Reservaat

Twee jong jagluiperdmannetjies begin hul lente vanjaar as nuutste toevoegings tot die Rietvlei reservaat buite Pretoria.

Die twee boeties is tans saam met hulle familie in Welgevonden reservaat, wat grens aan Marakele Nasionale Park net buite Thabazimbi. Die twee jagluiperds gaan vir ongeveer ses maande gaste van Rietvlei Reservaat wees voordat hulle na hul nuwe tuistes in onderskeidelik Mozambique en Zambië oorgeplaas word.

Volgens die koördineerder van die Bedreigde Spesie Trust (EWT) se jagluiperd afdeling, Vincent van der Merwe, is daar reeds begin om die nodige permitte te bekom. Die aansoek om die skuif na hierdie lande moet deur die Konvensie op Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (Cities) goedgekeur word ingevolge uitvoer kwotas, wat dan ook die nodige permitte sal uitreik. Verder sal daar gewag moet word vir die Inperking Vlak 1 bepalings voordat die diere uitgevoer kan word.

Volgens Cities word luiperds as ’n kwesbare spesie gelys, “met ’n afwaartse huidige bevolking van minder as 7 000 individue hoofsaaklik in Afrika se savanna’s.”

Die keuse het op Rietvlei geval aangesien daar geen ander roofdier bedreiging is nie en dit naby die OR Tambo Internasionale Lughawe is sodra hulle geskuif moet word.

Die twee mannetjies sal aanvanklik in ’n boma tot teen ongeveer middel September aangehou word voordat hulle in die reservaat vrygelaat word.

Verlede maand het die uMkhuze by die iSimangaliso Wetland Park twee jagluiperd wyfies, ook twee susters, van die Welgevonden se groeiende jagluiperdbevolking ontvang terwyl nog twee vir Marakele Nasionale Park geoormerk is.

Jagluiperds is reeds gedurende 2014 by Rietvlei hervestig en besoekers aan die reservaat het reeds die voorreg geniet om te sien hoe die kleintjies groei voordat hulle hervestig word.

Rietvlei sal ook gedurende die volgende twee maande 250 stuks wild ontvang wat vanaf die Modderfontein natuurreservaat in Johannesburg geskuif word.

Van der Merwe het verder genoem dat jagluiperds op ’n gereëlde basis tussen verskillende bevolkings geskuif moet word om genetiese gesondheid te bevorder en te verhoed dat een gebied nie oorbevolk raak terwyl ander onderbevolk is nie.

Hooffoto: Die jong en volwasse jagluiperdfamilie in hul natuurlike habitat by Welgevonden Wildreservaat.

Read More