Twyfelagtige tendertoekenning bevraagteken oor gevaarlike Thabazimbi-Northampad

2025 Sept 4 - Sanral- Tendertoekenning Bevraagteken Website Feature

Die VF Plus eis antwoorde van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) oor sy hantering van die R510-padprojek tussen Northam en Thabazimbi wat ʼn ernstige bedreiging vir openbare veiligheid inhou.

Luidens ’n verslag van Thabazimbi Fire and Rescue was daar net tussen Julie en Augustus vanjaar 38 ongelukke op dié pad. Die ongelukke kan grootliks toegeskryf word aan slaggate, die afwesigheid van padskouers en ontoereikende padtekens.

Volgens die mediaverklaring wat deur André Moss, VF Plus – LPW en provinsiale leier: Limpopo uitgereik is, het die kontrakteur, Joden, wat Sanral aangestel het, reeds in November 2024 die R510-projek verlaat en dit in ’n onveilige toestand agtergelaat.

Desnieteenstaande het die kontrakteur ’n nuwe kontrak ontvang om ’n ander pad in die Waterberg-distrik op te gradeer.

Hierdie toekenning wek ernstige vrae oor Sanral se tenderprosesse en verbintenis tot aanspreeklikheid.

Die mediaverklaring lui voort dat die VF Plus sal, as lid van Limpopo se provinsiale komitee vir vervoer en gemeenskapsveiligheid, die saak na die provinsiale regering neem en antwoorde eis oor beide die voltooiing van die R510 en waarom ‘n nuwe kontrak toegeken is aan ʼn maatskappy wat nie sy vorige werk voltooi het nie.

Hierdie situasie is onaanvaarbaar veral in ’n gebied waar die R510 ’n kritieke roete is vir plaaslike inwoners, mynboubedrywighede en swaar voertuie.

Die party doen ook ’n beroep op Sanral om onmiddellik lig te werp op hierdie kwessies en om konkrete maatreëls te implementeer om die R510 se veiligheid te verbeter.

Die lewens van motoriste en die ekonomiese welvaart van die Waterberg-distrik hang af van ’n betroubare en veilige padnetwerk.

Die VF Plus sê voorts dat die party hierdie saak noukeurig sal monitor en verdere stappe neem om te verseker dat openbare veiligheid en aanspreeklikheid eerste kom. 

Onvoltooide padwerke en slaggate vorm ‘n ernstige opstruksie tot padveiligheid.

Want to Receive Weekly Kwevoel Updates in Email?

We don’t spam! Read our privacy policy for more info.