Op dag en datum, toe die heel eerste uitgawe van Kwêvoël die berig op sy voorblad gedra het van ’n “grootskaalse gedaantewisseling” wat op Northam wag, kan Kwêvoël nou weer berig dat dinge besig is om daadwerklik te geskied nadat privaat inisiatief oorgeneem het waar die Thabazimbi Munisipaliteit gefaal het.
Die berig in Kwêvoël van Maandag 15 Augustus 1983 met die opskrif – “Northam Brei Uit” – het die plase bekend gemaak waar Goldfields prospekteerregte het vir sy beoogde platinummyn, nou bekend as Northam Platinum, aangrensend aan die bestaande Amandelbult Platinummyn naby Northam, verder af op die mineraalryke Merensky Rif wat deel uitmaak van die platinaryke myngebied wat vanaf Rustenburg deur die bosveld skiet.*
Dit was presies 42 gelede en mynbedrywe rondom Northam het intussen sodanig uitgebrei dat daar tans vier groot mynmaatskappye in die omgewing is wat werkgeleenthede aan sowat 4000 werkers bied. Tot op datum kon die plaaslike owerheid geen werkende rioolwerke om in die behoeftes van uitbreidings op Northam, en selfs die hoofdorp Thabazimbi, te voorsien nie.
Alhoewel Northam die aangewese en naaste dorp was, was die regering eeder ten gunste daarvan om groter dorpe met gevestigde infrastruktuur verder uit te bou en die mynerwerkers per bus na hulle werksplekke te vervoer. So was Thabazimbi dan die aangewese dorp wat oor die nodige infrastruktuur beskik het om wel die uitbreiding te kan hanteer.
Sake het egter drasties verander met die totstandkoming van munisipale rade wat volgens verkiesingslyste deur politieke partye beveg is na die die eerste ten volle demokratiese verkiesing in Suid-Afrika gedurende 1994.
Nooit is daar van regeringskant af iets gedoen om die infrastruktuur van Northam op te bou dat dit aan die behoefte van al die myne in die omgewing kan voldoen nie.
Met die swak vertoning van die Thabazimbi munisipaliteit wat weens ’n geskiedenis van disfunksionele munisipale rade waar die opgradering en onderhoud van bestaande infrastruktuur in Thabazimbi en Northam geen prioriteit gehad nie, het die situasie net bly versleg.
Weens die onvermoë om behoorlike dienste in verhouding met die groei van die dorpe te verskaf, was dit veral die gebrek aan ’n werkbare rioolaanleg en die instandhouding daarvan in Northam wat veroorsaak het dat rou riool aangrensende eiendomme die veld oorstroom het, alles deel van Northam se geskiedenis en ’n groot struikelblok in verdere sinvolle ontwikkeling.






Die potensiaal om Northam verder te ontwikkel was eenvoudig net te groot om te ignoreer.
Die uitdaging wat gestel is, is toe deur die privaatsektor aanvaar met onderandere die totstandkoming van Northam Investments wat bereid was om in die groot vraag na behuising vir mynwerknemers, sonder enige regeringshulp te voorsien, deur met die ontwikkeling van residensiële dorpe te begin.
Die eerste geproklameerde dorpsgebied was Northam Uitbreiding 6 met 800 voltitel-erwe waarvan 90 persent reeds verkoop is met die meeste daarvan waarop daar reeds gebou is.
Die eerste winkelsentrum van 28 000m², bekend as Northam Mall, het sodanig gegroei dat daar geen beskikbare spasie vir addissionele winkelpersele is nie. Dit het daartoe gelei dat ’n verdere 5 hektaar kleinhandelsareas tans ontwikkel word. Verder is daar ook groot belangstelling in hospitaal- sowel as hotelerwe,
Met hierdie uitbreiding het die daarstelling van funksionele rioolverwerking en watersuiweringsaanleg van die uiterste belang geword aangesien die bestaande stelsel nie tred gehou het met uitgebrei nie en ’n demper op verdere dorpsontwikkeling geplaas het.
Gesprekke met die Thabazimbi Munisipaliteit, waaronder Northan sorteer, het die probleem van beskikbare finansies na vore gebring aangesien die munisipaliteoit bykans onbekostigbare skuld en rentes moet afbetaal weens die wanbetaling aan verskaffers soos Eskom en Magalieswater deur die vorige disfunksionele minisipale rade.
Die ontwikkelaars het toe met Anglo Platinum en Northam Platinum, die twee grootste myngroepe in die omgewing, in gesprek getree wat gretig was om te help aangesien beide groepe ’n dringend behoefte aan behoorlike behuising vir werknemers het.
Met hul eie rioolafval verwerkingswerke kan die myne groot baat vind by die gebruik van gryswater in hul aanlegte en spaar op die hoeveelheid skoon water wat andersins hiervoor aangekoop moet word.
Beide hierdie myngroepe speel ook reeds vir etlike jare’n groot rol in die verskaffing van water aan Thabazimbi asook die instandhouding van die munisipale strukture waar nodig tydens noodtoestande wanneer die munisipaliteit nie oor die vermoë of finansies beskik te stel of om behoorlike dienslewering te verskaf nie.
Etlike jare het sedert die eerste samesprekings verloop en in ’n poging om die daarstelling van ’n rioolsuieringswerke ’n werklikheid te maak het Hendrik Malan van die privaat eiendomsmaatskappy, Northam Investments, aangebied om 10 hektaar grond binne die stedelike-ontwikkelingsgebied aan die munisipaliteit te skenk, terwyl die myngroepe onderneem het om finansiële hulp te verskf sodat daar met die projek begin kan word.
Die eerste kontrakteur wat aangestel is kon nie die kontrak voltooi nie en nog etlike jare het verbygesleep voordat verdere samesprekings hervat is.
Na nog sowat 2 jaar se vertragings is die kontrak hervat met Anglo Platinum as die kontrakteur wat vir die oprigting en konstruksie aangewys is.
Konstruksiewerk aan die rioolwerke is nou voltooi en toegerus, met die amptelike ingebruikneming daarvan gedurende September vanjaar.
Die rioolwerke se kapasiteit sal in die behoefte van 25 000 huise in die gebied kan voorsien.
Die gryswater wat gefiltreer word sal na die myn, sowat 8km verder, gepomp word.
Hierdie projek wat deur privaat inisiatief begin en voltooi is, verseker dan ook dat Northam oor een van die grootste en modernste WWTW-aanlegte in die land beskik.
Verdere residensiële ontwikkelings kan nou deurgevoer word met Northam Investments wat reeds goedkeuring het vir ’n verdere 2200 erwe in verskeie stadiums van ontwikkeling.
Dit is nie genoeg vir die afsienbare toekoms nie maar is ’n goeie begin met nuwe ontwikkelaars wat reeds besig is om tot die mark toe te tree.
Voorwaar ’n puik vertoning deur privaat ondernemings wat self duur infrastruktuur skep waar die owerhede nie in staat is om dit te doen nie.
* Sien uitknipsel van berig aangeheg – Hierdie was detyds warm nuus, en boonop in die heel eerste uitgawe van Kwêvoël, aangesien die Stadsekretaris van die destydse Thabazimbi Stadsraad tot op daardie stadium geen inligting kon bekom oor waar hierdie nuwe myn van Goldfiels gesink gaan word nie en hier publiseer Kwêvoël dit sonder enige probleme. (Dit help nogal om partykeer in die kroeg te gaan sit en luister waaroor mense praat! – RED)

