CommunityEditorialFeaturedTop Stories

110 Jaar van Hoop: Plaasskool stig Interaktiewe Biblioteek

In die hart van die landelike boeregemeenskap geleë in Koedoeskop, ʼn klein plaasdorpie in Limpopo, lê Laerskool Koedoeskop, wat reeds vir 110 jaar die hawe en opvoedingsentrum van die kinders in die omgewing is.
Met ʼn leerlingtal van 255 leerders en ter viering van beide die skool se 110de bestaansjaar én Afrikaans se 100ste verjaardag in 2025, beplan dié skool om ʼn blywende verskil te maak met die stigting van ʼn nuwe, interaktiewe biblioteek.

Die biblioteek sal as ʼn baken van taal, leer en bemagtiging met multimedia toerusting dien asook die dienste van ʼn arbeidsterapeut en toegang tot remediërende onderrig aan leerlinge bied.

Hierdie beplande projek bied nie net toegang tot boeke nie, maar sal ook ʼn nuwe wêreld van moontlikhede vir leerders ontsluit.

Vir hierdie kinders – sommige uit gevestigde boeregesinne, ander uit huishoudings waar ouers ure lank ondergronds werk – is toegang tot boeke, hulpbronne en gespesialiseerde onderwysbehoeftes nie vanselfsprekend nie.

Foto Links Heelbo: Van links: Sonica Bothma (Projekbestuurder) saam met Lize Marais (Skoolhoof – Laerskool Koedoeskop) wat verantwoordelik is vir die beplanning om hierdie groot droom van ʼn Interaktiewe Biblioteek vir die skool met die hulp van die gemeenskap te verwesenlik.
Foto Links bo: Die Vrye Gereformeerde Laerskool Johannes Calvyn het ‘n boek insameling ten bate van die biblioteek gehou. Soortgelyke pogings van ander laerskole sal beslis bydra om die skool se droom te verwesenlik. Skakel gerus indien u kan help.

Daar is geen openbare biblioteek binne bereik van die leerders nie, en vir die meerderheid is vervoer na dorpe of hulpbronne eenvoudig nie haalbaar nie.

“Kinders wat nie kan lees nie, kan nie leer nie,” sê Sonica Bothma, projekleier, ouer en passievolle kampvegter vir leesbevordering.

“Hierdie biblioteek moet meer wees as net vier mure – dit moet ʼn veilige ruimte wees waar elke kind die geleentheid het om hul volle potensiaal te ontwikkel. ʼn Plek wat die deur na die voorwêreld oopsluit sodat kinders, wat nie deur die boerdery-sektor geabsorbeer gaan word nie, ʼn blik het op die moontlikhede en ander boeroepe buite hul huidige verwysingsraamwerk.”

Die biblioteek sal toegerus wees met:

  • * ʼn Verskeidenheid kinder- en jeugboeke in Afrikaans en ander tale
    * Toegang tot multimedia vir navorsing en opvoedkundige inhoud
    * ʼn Gekwalifiseerde personeellid om leerders se leesvermoë en leerhindernisse te identifiseer
    * Arbeidsterapie en remediërende onderwysondersteuning om leeruitdagings aan te spreek
    * ʼn Uitleensisteem wat dit moontlik maak vir leerders om boeke saam op die lang busritte huis toe te neem

Die skoolhoof, Lize Marais, het dadelik die visie gedeel en ʼn geskikte lokaal beskikbaar gestel, maar ʼn biblioteek is meer as net ʼn geskikte ruimte – dit vra vir gemeenskaplike betrokkenheid, finansiële ondersteuning, boekskenkings en mense wat omgee.

Daarom roep die skool die publiek, borge en organisasies op om betrokke te raak.

Jou bydrae, groot of klein, kan ʼn lewe verander.

ʼn BackaBuddy-rekening is geskep vir dié doel terwyl skenkings in die vorm van boeke, toerusting of fondse om personeel en programme te ondersteun altyd welkom is.

“Ek droom van ʼn plek waar kinders nie net leer lees nie, maar verlief raak op lees – en op hul taal, kultuur en geskiedenis,” sê Bothma. “Hierdie biblioteek is ons erfenis aan die volgende generasie.”

Skakel om te help: Lize Marais 082 966 8401 of Sonica Bothma 071 897 6781

Hoe jy kan bydra:

Skenk boeke (nuut of in goeie toestand)

Maak ‘n finansiële bydrae via BackaBuddy – Klik op skakel hier onder

Laerskool Koedoeskop Mediasentrum

  • Maak ʼn finansiële bydrae deur middel van skenking in die skool se bankrekening
    (‘n Artikel 18A Sertifikaat kan uitgereik word vir enige kontant skenkings aan ‘n nie-winsgewende organisasie)
  • Borg toerusting, of digitale hulpbronne
  • Bied professionele dienste aan (arbeidsterapie, onderwys, ens.)

ʼn Skool… ʼn Gemeenskap… ʼn Nuwe begin. Help ons om hoop te bou – een boek op ʼn slag.

Vir meer inligting Kontak:
Lize Marais (Skoolhoof) 082 966 8401 – Sonica Bothma (Projekleier) 071 897 6781 – Ita Viljoen (Skakelbeampte) 083 229 0328

E-pos: hoof.koedoeskop@gmail.com  of sonica@finfan.co.za