Kruger 200: Duisende stroom na historiese erfenisfees
Kultuurtuiste Mediavrystelling
Met die Kruger 200- Presidensiële Partytjie op Erfenisdag by die Voortrekkermonument in Pretoria het Suid-Afrikaanse erfenis en kultuur ’n triomfantlike mylpaal bereik wat as een van die grootste Afrikaner-erfenisgebeure in etlike dekades beskryf kan word.
Wat begin het as ’n droom om die 200ste herdenking van pres. Paul Kruger se geboorte op ’n waardige wyse te herdenk, het eindelik gegroei tot een van die mees kleurryke, statige en gedenkwaardige feeste wat tot nog toe by die Voortrekkermonument gehou is, wat deur meer as 6 000 mense bygewoon is.
In aanloop tot die groot dag op 24 September is die Voortrekkermonument se vooraansig ’n maand voor die tyd met meer as 200 meter rooi, wit, blou en groen lap gedrapeer – die amptelike kleure van die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR).
’n Brons-ewebeeld van die Paul Kruger-standbeeld, soos dit tans op Kerkplein, Pretoria, staan, het die duisende feesgangers, toeriste en besoekers van reg oor die land, asook internasionale en plaaslike media, op die Markplein verwelkom. Die feesruimte voor die Monument was gevul met ’n atmosfeer wat tegelykertyd feestelik én plegtig was.
Die standbeeld, meesterlik gegiet en fyn afgewerk, is bestem om in Orania op die nuwe stadsplein opgerig te word. Dié beeld gaan dan deur die land toer en kan op verskeie dorpe besigtig word. Dit word op 10 Oktober – Kruger se geboortedag – in Orania onthul en sal saam met sy voetstuk meer as 10 meter hoog uittroon. Die vertrek van die beeld vanaf die Voortrekkermonument na Orania is ’n historiese gebeurtenis en het groot belangstelling gelok.
Feesprogram vol kleure en klanke
Die Kruger 200- Presidensiële Partytjie het aan feesgangers ’n ryke en uiteenlopende program gebied wat oud én jonk in vervoering gehad het. Valskermsweeftuie wat vroeg die dag om die Monument gesirkel het, het ‘n asemrowende gesig gebied.
Tweehonderd stalletjies het die Markplein stampvol gestaan en alles van tradisionele smulgeregte tot fyn handwerk gebied. Die gaste kon hulle verkyk aan swierige boeredanse en statige Volkspele, terwyl twee lewendige boereorkeste die gees hoog gehou het.
’n Kinderprogram het gesorg dat die jongspan op ’n prettige manier by hul kultuurerfenis betrek is. Daar was onder meer ’n Kruger-kleurloop met die vier kleure van die ZAR, ’n Kruger-skattejag, ponieritte, kameelritte, kettieskiet en ’n inkleurkompetisie. Bykomend kon die kinders hulle gesigte laat verf, op die springkasteel baljaar, trapkarretjies ry en foto’s neem. Die feesgangers kon hulle voorts verwonder aan honde-, perde- en brandweerdemonstrasies, asook die Voortrekkers se opedag.
Ander hoogtepunte was ’n toneelopvoering, Kruger breek die pad oop, deur NP van Wyk Louw. Hierdie toneel handel oor Kruger se lewe, ‘n amperse burgeroorlog, sy geloof en sy rol in die geskiedenis van die ZAR. Dit het die gehoor aangegryp en met nuwe waardering laat terugdink aan dié staatsman se ryk nalatenskap.
Daar was ook ’n spoggerige staatsbanket in die Kruger-galery en ’n Tant Gezina-teetuin en -mark in die FAK se Afrikaanse liedjietuin, aangebied deur die Dameskring.
Om 11:00 het Oom Paul (oftewel Louis Engelbrecht, voorsitter van die Krugergenootskap) en tant Gezina (Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media) op ’n koets die terrein binnegery waarna heerlike koffie en verjaarsdagkolwyntjies geniet is. ‘n Optog met veteraanmotors, Voortrekkers, ‘n pelaton met K9-honde en sekerheidsvoertuie het voor en agter hulle die terrein inbeweeg. Om 12:00 het ’n reeks kanonsalvo’s, ook in die vier kleure van die ZAR, die atmosfeer deurdrenk om Oom Paul met hierdie spesiale mylpaal geluk te wens.
Om 14:00 het die feesgangers bymekaargekom vir dr. Carel Boshoff, direksievoorsitter van die FAK, se groeteboodskap aan Oom Paul. “Hier gebeur vandag iets. Wat ons beleef is nie bloot die herrangskikking van gedagtes of die inkleding van denkbeelde nie, dit is ‘n betreklik klein gebeurtenis wat die werklikheid verreikend verander,” sê Boshoff. “Dit is soos die eerste trillings waarop daar dalk ‘n aardbewing kan volg. Dit het begin toe die FAK, onder omstandighede wat vergelykbaar is met wat ons tans weer beleef, ‘n bedreigde baken van ons identiteit en geskiedenis só deeglik gedokumenteer het, dat die gelyke daarvan gemaak kon word.”
Daarna het ‘n parade voor oom Paul verbybeweeg om hom geluk te wens en aan hom eer te betoon voor hy op sy reis vertrek. Die parade was ’n indrukwekkende vertoning van ’n perdekommando, veteraanmotors ‘n peloton met K9-honde, Boeredansers, Oom Paul en tant Gezina op ‘n koets en sekerheidsvoertuie. Die parade het simbolies die verlede en hede in ’n lewende geskiedenisles verbind.
Om 17:00 het Oom Paul vertrek na sy volgende punt by Kerkplein, in die middestad van Pretoria.
Ster op die verhoog
Op die musikale front het die fees alle verwagtinge oortref. Steve Hofmeyr het ’n splinternuwe lied, “As jy my vind”, vir die Kruger-herdenking saam met van sy grootste tydlose treffers gesing. Sy konsert het die skare laat saamsing én saamstaan in ’n oomblik van eenheid en trots.
“Ons is opreg dankbaar oor die reusesukses van die fees,” sê Dawid Brand, bedryfshoof: media, bemarking en toerisme van die Kultuurtuiste.
“Dit was nie bloot ’n feesdag nie, maar ’n ervaring van herverbinding met ons identiteit en geskiedenis. Paul Kruger – volksleier, president en kultuursimbool – is op ’n waardige en feestelike wyse gehuldig,” sê Brand, wat ook ’n Kruger-nasaat is.
Die presidensiële karakter van die dag het in elke detail deurgeskemer: van die formele seremonies, tot die vlagvertoon en musiek. Tog is dit op ’n toeganklike manier met die gemeenskap gedeel – kaartjies was slegs R20 vir volwassenes, wat verseker het dat gesinne en individue van alle agtergronde en ouderdomme in die dag kon deel.
Erfenis vir die toekoms
“Die Kruger 200- Presidensiële Partytjie het ’n duidelike boodskap uitgedra: erfenis hoort nie net in museums of boeke nie, maar in bruisende gemeenskapsvieringe. Vir jongmense was dié Erfenisdag ’n geleentheid om Paul Kruger en sy era as deel van ’n groter storie, waarin hulle self ’n rol speel, te eien. Vir ouer generasies was dit ’n bevestiging dat hul kultuur en waardes relevant en lewend is,” sê Brand.
“In ’n tyd waar erfenis so maklik in leë politieke retoriek verstrengel raak, het die Kruger 200- makietie uitgestaan as ’n geleentheid van waardigheid, hoop en trots. Van kulturele selfrespek, ’n diep identiteitsbewustheid en die kanonkrag van gemeenskapsamehorigheid. Soos een besoeker dit treffend opgesom het: ‘Ons het vandag nie net Oom Paul onthou nie – ons het onthou wie ons is,’” sluit Brand af.






