Die jaar snel ten einde en die KunsteGrot bied die nuutste kabaret wat gehore landswyd laat saampraat, Hoort, hier in Thabazimbi se eie teater aan.
Kom ervaar op Vrydag 28 November 2025 hierdie roerende vertoning vol musiek, storie en siel – met die ongelooflike Stephanie Baartman by die KunsteGrot in Thabazimbi.
Stephanie het die afgelope paar jaar bekendheid verwerf nie net vir haar sang nie maar ook haar meelewende verhoogpersoonlikheid.
Een van die onlangse vertonings wat groot aftrek geniet het was die huldeblyk aan Gé Korsten, iemand waarvoor Stephanie groot bewondering koester.
Kyk die video hier –
Ons Gé: Huldeblyk – Stephanie Baartman
Stap saam met Stephanie Baartman op ’n sielvolle reis in Hoort — ’n semi-outobiografiese kabaret wat humor, hartseer en hoop met mekaar verweef.
As die dogter van twee predikante neem Stephanie gehore op ’n intieme ontdekkingstog deur haar lewe — oor geloof, identiteit en die soeke na behoort binne Suid-Afrika se ryk en komplekse geskiedenis.
Met warmte en skerp sin vir humor deel sy die snaakse, ontroerende en dikwels ongemaklike oomblikke wat haar gevorm het, terwyl sy vra wat dit werklik beteken om gehoor te word.
Met ’n kleurvolle mengsel van oorspronklike musiek, jazz, gospel en vertelling in verskeie tale, vier Hoort die veerkragtigheid van gemarginaliseerde gemeenskappe en die rykdom van ons kulturele verskeidenheid.
Of jy nou kom vir haar kragtige stem, haar eerlike stories of haar sprankelende teenwoordigheid — Hoort beloof ’n aand vol emosie, musiek en inspirasie wat lank sal bybly.
Pak gerus die piekniekmandjies en kuier voor en na die vertoning saam met vriende en maak ook kennis met hierdie talentvolle sangeres.
Die KunsteGrot is reeds bekend vir die optredes deur veral Afrikaanse musiek- en verhoog kunstenaars en het u volle ondersteuning nodig om te verseker dat hierdie unieke teater dit steeds in die toekoms kan doen.
Hier by die KunsteGrot vind verskeie kultuuraksies plaas en dit is veral die insette van Rita Volschenk wat sorg dat dramaopleiding binne bereik van laerskool, hoërskool en volwasse persone beskikbaar is.
Dit is veral die dramastudente op skoolvlak wat gereeld aan nasionale kompetisies deelneem en groot lof vir hul ontluikende talent verdien.
Jou ondersteuning van die kunstenaaroptredes bied nie aleen vermaak wat slegs op kunstefeeste of die teaters in die stede beskikbaar is nie maar verseker dat jy dit in die toekoms steeds hier in Thabazimbi se eie teater kan geniet.
Nooi gerus jou vriende in die buurdorpe of in die stad om die naweek na Thabazimbi weg te breek en saam saam met julle piekniekmandjies te kuier terwyl jy terugsit en die vertoning geniet.
Kaartjies vir die aand se vertoning kos R200 per persoon en R180 vir pensioenarisse.
Onthou dus: Vrydagaand 28 November 18:30 vir 19:00 –
Vertoning begin stiptelik om 19:00 – sorg dat jy vroeg genoeg kom.
Besprekings kan reeds gedoen word by Rita 083 744 8559.


