General

Angola 1930 – Die legende van Dieta begin

Dieta Bronkhorst van Thabazimbi, wat op 8 Mei haar 90ste verjaarsdag gevier het, het die eerste lewenslig in Angola aanskou waar haar pa as ambagsman en haar ma as kleremaakster by ’n diamantmyn gewerk het.

Hannes Coetzee, van Thaba Superspar, het gesorg vir ’n heerlike groot verjaarsdagkoek en die ander inwoners van Bosveld Oord het bygedra met ’n bordjie eetgoed om te sorg vir ’n gesellige verjaarsdagviering.

Dieta, wat in 1930 gebore is, was die tiende, en jongste kind, van die Burger-gesin wat reeds gedurende die 1920’s per skip vanaf die Kaap na Angola gevaar het om daar ’n nuwe lewe te begin.

Haar pa was ’n wielmaker (wheelwright) wat hout-speekwiele gemaak en herstel het vir ossewaens, skotskarre en stoommasjiene se vliegwiele, wat met belde die aandrywing verskaf het aan alle kraggedrewe masjienerie.

Haar ma, ’n nooi Dicks van Skotse oorsprong, was ’n gekwalifiseerde kleremaakster en het op die myn vir almal klere gemaak.

2020_Mei_Dieta_verjaar
Dieta by die verjaarsdagkoek wat Thaba Superspar spesiaal vir haar verjaarsdag gebak het. Op haar verjaarsdag het almal in Bosveld Oord spontaan ’n bordjie eetgoed bygedra en die dag saam met haar geniet.

Dieta en haar ouer broer, Johnny was die enigste twee kinders wat in ’n hospitaal gebore is, die ander het Dieta se ma self by die huis gevang. Van die 10 kinders was daar twee stelle tweelinge, naamlik die oudste twee seuns, Albert en Stefaans en dan ook later Willem en ’n tweelingsussie wat as baba dood is.
Van Angola het Dieta nie veel ervaar nie aangesien sy maar een jaar oud was toe die gesin weer opgepak het en die skip teruggeneem het na die Kaap. Dieta vertel van die konsternasie terug in Suid-Afrika, om al die kinders weer Afrikaanse name te gee nadat hulle in Angola met Engelse name tevrede moes wees.

Haar naam het sy gekry deurdat haar ouer broer, Johnny, self nog ’n kleuter wat leer praat, haar “Dietie” genoem het wat toe later Dieta geword en gebly het. Johnny was dan ook die een wat die ergste deurgeloop het met die herbenaming deur sommer al die oorbly-name te kry en uiteindelik as Jan – Johannes – Stefanus – Petrus (Burger) geëindig het.

Van die Kaap af het hulle na Rustenburg getrek waar hulle op dr Robinson se plaas op die Olifantsnek-dam pad gebly en haar pa vir die dokter geboer het.

Haar pa het later werk in die dorp, steeds as wielmaker, gekry terwyl die gesin steeds op die dokter se plaas gebly het.

Dit was die jare tydens die Groot Depressie en geld was maar skaars. Die depressie het boonop saam met een van die grootste droogtes in die land gepaard gegaan en almal het swaar gekry.

Haar ma het werk by die koöperasie op die dorp gekry en soggens het sy en die kinders die langpad dorp toe aangepak na die laerskool waar dit vandag steeds by die Rustenburg se Stadsaal is. Af en toe het, het een van die onderwyseresse, Juffrou Stock, wat ook in daardie rigting gebly het, hulle ’n saamrygeleentheid gegee wat hulle baie waardeer het vir die voete wat gespaar gebly het.

Op die plaas was pampoen en ertjies volop beskikbaar. Die gebakte pampoen is met slonspampoen en ertjies afgewissel en elke maaltyd het met pap of brood gepaard gegaan. Brood was bietjie skaarser en nagereg was ’n sny bruinbrood met gedrupte botter en ’n dun lagie suiker. Die verskeidenheid was nie groot nie maar nooit, sê Dieta, het hulle honger gely nie.

Nadat Dieta haar hoërskoolloopbaan by Rustenburg Ou Hoër voltooi het, het sy vir die Harald, Rustenburg se koerant, gaan werk en later werk by die United Tobacco Corporation (UTC) op Rustenburg begin werk. Hier het sy vogmonsters van al die tabak wat in miedens gepak moet word om te verseker dat dit nie te nat is dat dit sal sweet en muf terwyl dit so gestoor word.

Dit was dan ook hier waar sy haar toekomstige eggenoot ontmoet het.

Bronkie Bronkhorst het in Thabazimbi grootgeword en na sy skoolloopbaan het hy as pas-en-draai vakleerling by Yskor se Thabazimbimyn begin werk.

Na voltooiing van sy vakleerlingskap, moes hy soos al die ander vakleerlinge destyds, eers vir ’n jaar in diens van ’n ander firma sy ambag beoefen. Hy het toe aansoek gedoen en het werk by UTC op Rustenburg gekry, waar Dieta toe reeds gewerk het.

Bronkie se ouers, Oom Hans en Tannie Koba Bronkhorst, het destyds by Vliegpoort Trading Company, of soos beter bekend, die Jood se winkel, vir Louis en Belle Milner, beter bekend as Mrs “M”, en later hul seun Mervyn gewerk. In hul af tyd het hulle op hul plaas naby Makoppa geboer.

Die huis op die plaas was daar destyds net ’n sinkkaaia met beperkte slaapgeriewe. Dit was dus heel beknop as Bronkie met Dieta kom kuier het en tydens hul besoek vir Kersfees het Oom Hans geskimp dat die twee nou ’n plan moet begin maak voordat hy nodig het om nog enkelbeddens vir die huis aan te skaf.

Die volgende jaar, op 23 April 1954 is hulle getroud. Die huweliksbevestiging was in Rustenburg waar Andries Johannes Paulus Bronkhorst met Magdalena Cornelia Sophia Burger in die huwelik getree het.

Die egpaar het eers na die geboorte van hul eersteling, Hansie, wat in 1956 gebore is, gedurende 1959 na Thabazimbi verhuis waar Bronkie weereens werk by YSKOR Thabazimbimyn aanvaar het. Hulle tweede seun, Bennie, is in 1960 op Thabazimbi gebore.

Die jong gesin se eerste woonplek was die skakelhuisies in Vierdelaan, tans deel van die ouetehuis.

Van die mense wat ook in een van die skakelhuisies gebly het, was Jock en Sissy Brough met hul tweeling dogters, Evelyn en Joyce. Beide dogters is steeds inwoners van Thabazimbi met Evelyn wat met Willa Smit en Joyce wat met Johan du Preez in die huwelik getree het.

Terwyl Dieta, nes vandag, haar huishouding self behartig, was haar eerste werk op Thabazimbi by Vliegpoort Spar, die voormalige Vliegpoort Trading Co. en tans die perseel van die “Junction Mall” by die aansluiting van die Lephalale-pad.

Beide Dieta en Bronkie was lief vir sport en op Thabazimbi was Bronkie ’n ywerige lid van die Thabazimbi tennisklub, onder andere saam met Johan en Alida van Niekerk. Dieta het die gholfstokke bo ’n tennisraket verkies en het sedert die begin van die ghofbaan by Ben Alberts, gereeld saam met die tandarts, dr Chris Vlok, en sy vrou Trix gaan speel.

Sy vertel dat daar darem bowwe en putjies was maar dat daar nie veel van ’n skoonveld tussen-in was nie en indien die veld te nat was of dit het gereën hulle sommer maklik die pad gevat na Warmbad om daar te gaan gholf speel.

Dieta se belangstelling in gholf kom reeds van Rustenburg af toe Rustenburg se Pro-Gholfer, Roy Rivers, haar gevra het om hom na die amptelike opening van die nuwe Rustenburg Gholfklubhuis te vergesel. Bobby Locke, die Suid-Afrikaanse professionele gholfspeler wat in 1935 reeds sy eerste Suid-Afrikaanse Ope Gholfkampioenskap as amateur op 18 jarige ouderdom gewen het, was dié aand die spesiale gas van die gholfklub.

Dieta was so 21 jaar oud en beslis ’n romantikus. Sy kan die aand goed onthou want dit was die aand dat Bobby Locke die orkes versoek het om Lady of Spain te speel en toe vir haar, Dieta, gevra het om met hom te dans.

Die gholfgogga het nie dadelik sy byt aan Bronkie gekry nie, maar toe hy eers inwillig en brom-brom die eerste paar balle geslaan het, het hy gou sy raket vir gholfstokke verruil.

Vir ’n geruime tyd het Dieta as ontvangsklerk by Kransberg in diens van die eienaar, Willie Offermeyer, gewerk. Die werk met ’n konstante stroom van nuwe en ou besoekers het haar persoonlikheid baie goed gepas en later jare toe sy alleen in haar huis in die dorp gebly het, het sy loseerders ingeneem om te help om die huis af te betaal.

Haar loseerders was almal enkellopende mense wat as bestuurders van besighede, hofamptenare en dergelike professionele beroepe blyplek gesoek het. By haar het hulle nie net interessante geselskap gekry nie, maar is hulle wasgoed gedoen en het sy vir hulle kos gemaak.

Bronkie het haar na ’n kort siekbed in 1985 ontval. Hulle het destyds op die plot langs die Lephalale pad gewoon, wat hulle oorspronklik by Lappies, die destydse onderwyser by HFM, gekoop het en vir hulle ’n huis daar gebou het. Na sy afsterwe moes Dieta die totale pensioen wat aan haar uitbetaal is spandeer om die uitstaande verbandrekening op die plot af te betaal.

Dit het haar met geen ander weg gelos nie as om die plot weer te verkoop en met die geld wat sy daarvoor gekry het die huis in Negendelaan in die dorp te koop.

Met die kinders uit die huis en met hul eie gesinne steeds in Thabazimbi, was dit tyd om na skool in te spring en uit te help met die kleinkinders waar hul ouers gewerk het.

Sy het nog gereeld gholf gespeel tot 2007 toe sy saam met Alida van Niekerk vir oulaas nege putjies gaan speel het. Ongeveer twee weke hierna het Alida tragies by die afdraai na die gholfklub verongeluk toe haar voertuig met twee ander voertuie in ’n botsing betrokke was.

Dieta was deur die jare by die kerk en gemeentelewe betrokke, eers as Sondagskool onderwyseres en later as diaken en ouderling in die NG Kerk Thabazimbi.

Dieta by die foto’s van haar kinders en kleinkinders.

Sy is omring deur haar boeke en vertel dat sy reeds van kleins af versot was op lees. Sy het nie ’n koerant by haar laat verbygaan nie, soos die Kwêvoël deeglik kan van getuig as sy elke Vrydag soos klokslag ’n draai by die Kwêvoël kantoor gemaak het nog voordat die koerant op straat was. Sy het gewoonlik ’n paar eksemplare saamgeneem vir seniors wat nie in Bosveld Oord, waar die koerant gereeld Vrydae verniet versprei is, gewoon het nie.

Na ’n lensvervanging-operasie sê sy dat sy nou beter as ooit kan sien en steeds lees sy aanmekaar.

So is Dieta vandag steeds omring deur al die herinnering met haar kinders en kleinkinders se foto’s teen die mure en op die boekrak, en die rakke vol boeke in haar woonstel by Bosveld Oord op Thabazimbi.

Dieta het tot onlangs steeds haar eie motor bestuur en haar bestuur-lisensie is steeds geldig tot 2021. Sy het egter besluit dat sy nie meer lus is om ver afstande self te bestuur nie en het ook die kar, wat aan geleen is nadat haar eie by Bosveld Oord gesteel is, teruggegee.