Ou inwoner stil heengegaan

Een van Thabazimbi se ouste inwoners, Jenny Kemna (93), is Sondag 10 Mei oorlede terwyl sy aangesterk het na ’n kort siekbed.

Jenny, wat in alleen in haar huis aangebly het na die afsterwe van haar man, Anton in 2014, was nie siek gewees nie alhoewel sy van ’n seer been en ’n seertjie aan haar been gekla het. Met die inperking wat afgekondig is, het haar dokter besluit om haar eerder by MediClinic in te boek wat toe wel op 26 Maart gebeur het.

Gedurende die tien dae wat sy gehospitaliseer is, het die seerplek herstel maar het sy longontsteking opgedoen waarvan sy gedeeltelik herstel het teen die tyd dat sy ontslaan is.

Gedurende die tydperk wat Jenny alleen in die huis gebly het, het Louisa van Eltec, net langs Jenny se huis, ’n ogie oor haar gehou en toegesien dat sy versorg is.

Aangesien Jennie niemand gehad het wat haar voltyds tuis kon versorg nie en die beperkings wat op Suid-Afrikaners geplaas is weens die inperking, het haar enigste oorblywende familielid in Suid-Afrika, Anton se broerskind Mary Anne en haar man wat in Johannesburg woon, besluit om haar te kom haal en tuis by hulle te versorg.

Alhoewel sy verswak was, het haar toestand gestabiliseer, maar weer geleidelik verswak totdat sy op 10 Mei stil heengegaan het aan huis van Mary Anne en gesin.

’n Gedenkdiens is Dinsdag 19 Mei vanuit die Katolieke Kerk in Johannesburg, waarvan beide Anton en Jenny getroue lidmate van die Rustenburg gemeente was, gehou.

Anton en Jenny Kemna op hul troudag op 25 Februarie 1954 in Nederland.
.

Anton en Jenny het as jong getroude paartjie op 10 Mei 1954 voet aan wal in Suid-Afrika gesit, nadat hulle op 25 Februarie 1954 in Nederland in die huwelik bevestig is en besluit het om na Suid-Afrika te emigreer.

Anton was ’n gekwalifiseerde horlosiemaker (dit was die tyd voordat digitale horlosies die mark oorgeneem het), ’n ywerige fotograaf en van juwele ’n kenner. Met hierdie ervaring en met die kwalifikasie as ’n elektroniese ingenieur, het die egpaar kans gesien vir die bosveld en spesifiek vir Thabazimbi om hul besigheid hier te vestig en te woon.

Blykplek op Thabazimbi, ’n myndorp, het nie vir entrepreneurs bestaan nie. In Chromite, die dorpie by Zwartkopkroommyn, naby die huidige Amandelbult, het hulle wel huisvesting gekry en daarvandaan per trein met ’n tas vol horlosies na Thabazimbi gependel waar hulle oor die jare die besigheid sodanig opgebou het en later ’n huis in die dorp kon bekostig.
Aanvanklik het hulle van huis tot huis gegaan om stukkende horlosies af te haal, herstel en weer af te lewer. Met die trek na Thabazimbi het hulle reeds die winkeltjie in Tweedelaan, AC Kemna – Juweliers en Horlosiemaker, bedryf.

AC Kemna het later ook kameras en films tot hulle lyn van produkte toegevoeg en soos die behoefte gegroei het, na skryfbehoeftes uitgebrei waar skoliere dit self moes aanskaf. Hulle die gaping in die mark gesien en was inderwaarheid die dorp se eerste Skryfbehoefte-winkel.

Terwyl Anton in sy horlosiewerkswinkel besig was, het Jenny die voorwinkel met ’n arendsoog dopgehou.

Sodra iemand ingekom het vir ’n verloof- of trouring, ’n kamera of bietjie raad, het Jenny vir Anton gaan roep as hy in sy werkswinkel besig was, verder het sy die algemene bediening van kliënte hanteer.

Nadat hulle besluit het om die winkel te sluit en af te tree, het Anton steeds horlosies restoureer en herstel in sy werkswinkel wat hy vanaf die huis bedryf het.

Die paartjie het beslis nie in afsondering geleef nie en Anton was een van die eerste lede van die Thabazimbi Vliegklub toe die vliegveld suid van Bobbejaanwater verkuif het na waar dit nou is.

Die egpaar het nooit kinders gehad nie en Jenny was altyd die stil en ondersteunende eggenote wat Anton in al hierdie sake ondersteun het.

Anton en Jenny was ook aktiewe lede van die destydse Rooi-Kruis organisasie wat nood- en ambulansdienste aan die wyer gemeenskap, wat nie deur die myne bedien is nie, verskaf het.

So het hulle dan ook gedurende die laat sewentiger-, vroeë tagtiger-jare deel geword van die Thabazimbi Lionsklub.
Beide se betrokkenheid het waarde tot die bestaan van die klub gevoeg en steeds na die ontbinding van die klub, was Anton en Jenny steeds sigbaar in Thabazimbi se sentrale sakesektor waar hulle tweedehandse boeke verkoop het om geld vir CANSA in te samel, en gedurende die Feestyd, die verkoop van Lions Kerskoeke by hul boekstalletjie waardeur hulle hul bande met die organisasie behou het.