Regering se Covid-19 model afgeskaal na grawe van grafte
Een van die vooraanstaande kenners op die gebied sosiale sekerheid-administrasie en -beheer, professor Alex van Heerden, verbonde aan Wits Universiteit, het na aanleiding van die Covid-19 modelle wat die regering Maandagnag vrygestel het, sy kommer uitgespreek oor tekens dat die regering se strategie nou die vlak van grawe van grafte bereik het.
Hy sê dat die modelle wys dat die regering besig is om sy ergste-gevalle benadering te betree en wil dit voorkom asof daar geen verdere beplanning is buiten as om meer hospitaalbeddens beskikbaar te maak nie.
“As jy jou strategie afsluit deur meer hospitaalbeddens beskikbaar te stel, is die uiteindelike strategie die grawe van grafte,” het hy gesê.
“Dit is in wese ’n aanduiding dat die strategie misluk het en erkenning dat die epidemie ’n vlak bereik het waar dit nie meek beheer kan word nie.”
Hy het verder gesê dat die modelle is op sigself nie kristalballe wat gebruik moet word om die toekoms te voorspel nie. In die meeste gevalle kan mens bepaal wat vir ’n kort periode in die toekoms kan gebeur en hoe verder die toekoms in, hoe meer onbetroubaar is die resultate van die voorspelling.
“Die probleem is dat die regering hierdie modelle gebruik vir hul totale beplanning.”
Daar is blykbaar ook nie van ’n gebalanseerde risiko in die beplanning gebruik gemaak nie. So is die risiko van die verlies in ekonomiese aktiwiteite, wat R13 miljard per dag beloop, nie vergelykbaar met die totale uitgawe ten opsigte van voorbereiding, toetsing en opsporing van ongeveer R20 miljard vir een jaar wat op Covid-19 spandeer word nie.
“Die inperking vir die eerste drie weke was die regte stap om te neem, maar ’n strategie wat op inperking gebaseer is, sal altyd misluk.”
“Wetenskaplikes moet nie gebruik word om die politieke keuses van die regering te verbloem nie,” sê van Heerden.