BCG-Inenting: Dalk voordeel vir Suid-Afrika
Lande met ’n lang en suksesvolle geskiedenis van ‘n BCG-inentingprogram vir kinders toon volgens ’n voorlopige verslag, deur wetenskaplikes van die New York Instituut van Tegnologie (NTIT), dat BCG-inenting dalk tot voordeel kan wees vir Suid-Afrika deurdat hierdie lande beter vaar tydens die uitbreking van COVID-19 as lande wat nie die spesifieke inentingsprogram gevolg het nie.
In Suid-Afrika is die BCG (Bacillus Calmette-Guérin) inentingsprogram reeds sedert 1973 geïmplementeer, anders as lande soos Italië, Nederland en die VSA wat geen eenvormige inentings strategie ten opsigte van die BCG inentingsprogram in werking het nie.
Volgens die navorsing spanleier, Gonzalo Otazu, het die virus na die meeste lande in die wêreld versprei maar wat navorsers dronkgeslaan het was die feit dat die impak van die siekte verskillend in verskillende lande is.
Hierdie verskille kan toegeskryf word aan verskillende kultuurpraktyke, wyse waarop die virus versprei asook die gesondheid-infrastruktuur van die land. Nou blyk dit dat die onderskeie inentingsprogramme van die staat aangaande BCG-inenting van kinders moontlik ook ’n rol kan speel.
Die BCG-inenting bied wye beskerming teen respiratoriese infeksies en die span navorsers het ’n groot aantal lande se BCG inentingsprogramme in hul navorsing, ten opsigte van die aantal besmettings en die aantal sterftes wat deur COVID-19 veroorsaak is, betrek. Dit is juis hier waar Suid-Afrika se BCG-inentings voorskrifte dalk hoop mag bied.
Die Wêreld Gesondheids Organisasie (WHO) wys daarop dat die verslag nog nie gepubliseer is nie en dat baie kliniese toetse nog gedoen moet word om te bevestig dat dit wel die BCG entstof is wat die effek van die coronavirus teenwerk.
WHO moedig internasionale groepe aan om hul kragte by die van Nigel Curtis, hoof van die aansteeklikesiekte navorsingsafdeling van die Kinder Navorsings Instituut in Melbourne, Australië, te voeg sover dit hierdie navorsing behels.
In Australië is hierdie entstof reeds vir sowat 100 jaar in gebruik en word dit nou aan sowat 4 000 gesondheidswerkers verskaf, die enigste manier om uit te vind of dit werk.
Volgens WHO is die dekking deur BCG entstof in Suid-Afrika tussen 80% en 90%, behalwe gedurende 2017 en 2018 toe die land se voorraad uitgeput geraak het en die dekking toe afgekom het na 75% en 70% onderskeidelik.