BusinessFeaturedHealth

Las van Hooikoors? – Medhof kan help

Dis heerlike lente – die winter is verby. So olik die mense met loopneus en nies wat jy wil vermy.

Vergeet nie van oë wat jeuk en onophoudende niesbuie nie, alles maar deel van die hooikoors-seisoen.

Sekerlik die een ding wat ons van die Covid-19 pandemie geleer het, veral onder ouer mense en mense wat aan kroniese siektesimptome en verswakte weerstand ly, is dat dit baie belangrik is om te verhoed dat ’n hooikoorsaanval jou immuniteit verswak.

Inwoners van Thabazimbi en die bosveld loop jaar na jaar deur onder die lastige simptome van hooikoors met die talle bome wat hier voorkom. Dit is nie net die ongewenste seringbome met hulle blommetjies wat die een niesvlaag op die ander tot gevolg het nie, maar ook die inheemse bome wat deel van die dorp en omgewing is.

Die knoppiesdorings is van die eerste bome wat bot met hulle wit blomme wat soos katoenbolle die strate en erwe vol waai. Dit is nie die einde hiervan nie, want al die bosveldbome blom nie gelyktydig nie.

Die probleem lê by die stuifmeel wat die lug vol waai en dan allergiese toestande soos loopneuse, oë wat aanmekaar traan asook nies- en hoesbuie veroorsaak.

Gelukkig is dit seisoenaal en sodra die gras, bome en onkruid klaar geblom het keer alles weer na normaal terug.

Daar is ’n paar dinge wat mens kan doen om die effek van die stuifmeel te verminder soos om jou huis se vensters toe te hou en ’n bril te dra as jy buite is om te keer dat daar nie so baie stuifmeel in jou oë beland nie. As dit jou erg aantas is dit miskien raadsaam om weereens jou masker, wat ons tydens die inperking moes dra weer uit te grawe en buite dra. Dit sal beslis help om hooikoors ook te verminder. Indien jy weet dat jy vatbaar is vir allergieë wat stuifmeel-verwant is, is dit dalk raadsaam om jou masker ook tuis te dra indien daar bome soos sering en doringbome in jou omgewing is wat nou hulle blomme uitstoot.

Die histamine in die stuifmeel veroorsaak die meeste van die allergiese toestande by die mens. Juis oor hierdie rede is die mees algemene behandeling met middels wat antihistamine bevat. Indien die middels jou lomerig maak, gesels met ons by Medhof Apteek oor middels wat jou nie lomerig sal maak nie.

Simptome kan vererger word deur sigaretrook, sterk reuke soos parfuum, haarsproei en walms van skoonmaakmiddels, swembadchloor selfs motors se uitlaatgasse.

Buiten hierdie lastige simptome is daar baie ander newe-effekte soos verlaagde konsentrasie en fokus, vertraagde besluitvermoë en versteurde hand-oog koördinasie, probleme met geheue, geïriteerdheid, slaap versteurings en vermoeidheid. Hierdie newe-effekte kan lei tot afwesigheid by die werk of skool.

As jy enige van hierdie newe-effekte ervaar moet jy ook maar liefs nie agter ’n motor se stuur inskuif nie.

Kom gesels gerus met ons aptekers by Medhof om die beste raad en voorkomende medisyne te kry wat die newe-effekte sowel as die hooikoors simptome onder beheer kan hou.

Sommige mense word meer as ander hierdeur geraak en dit is dan wat jy liewers met ons aptekers moet praat aangesien sommige van die middels op die rak die simptome van hooikoors beveg maar die newe-effekte dalk vererger.

Indien jy die hele jaar allergiese simptome van hooikoors ervaar moet jy jou dokter raadpleeg aangesien dit met die regte medisyne en behandeling onder beheer gehou kan word. Hier kan jou allergie dalk deur jou leefstyl veroorsaak word of kraakbeenprobleme in jou neus en sinusholtes wat deur gespesialiseerde ondersoeke bevestig kan word.

Onthou dat hooikoors niks met hooi uit te maak het nie en jy het ook nie koors as jy hierdeur geraak word nie. Dit kan dalk ’n invloed hê op jou nasale kanale en oë wat wel die toegangspoorte vir lastige verkoue virusse is.