Houers van Waterregte: Waterverskaffing nou Gesentraliseer
Die minister van Water en Sanitasie, Lindwe Sisulu, het aangekondig dat vir die duur van die COVID-19 inperking, watertoewysing gesentraliseer sal word by die Johannesburgse beheersentrum.
Die minister het genoem dat al die water geneem is en onder die beheersentrum by Rand Water in Johannesburg geplaas is waarvandaan alle versoeke wat water aan betref sal kom.
In die geval van besproeiingsrade, hoofsaaklik boere en individue wat waterregte besit, sal daardie rade ook opdrag kry om water aan die regering beskikbaar te stel.
Agri SA het in hul kommentaar gesê dat hulle dit as ’n tydelike noodmaatreël om die COVID-19 pandemie teë te werk beskou vir solank die ramptoestand heers.
Agri SA het ook bevestig dat die departement boek sal hou van al die betrokke kostes en dat besproeiingsrade sulke kostes kan terugeis.
Die departement het ook te kenne gegee dat hy alle nodige maatreëls sal tref om te verseker dat water wat aan verbruikers voorsien word, volgens die vereiste gehaltestandaarde gesuiwer sal word.
‘n Aantal boerderygebiede landswyd is reeds vir maande, en sommiges selfs jare, sonder water. Die regering is nou genoodsaak om spoedig watervoorsiening te verseker gegewe die behoefte aan konstante ontsmettingspraktyke om die verspreiding van COVID-19 te verhoed.
TLU SA het egter sy kommer uitgespreek dat die sentralisering van waterbronne nie om die regte redes geskied nie en dat dit ‘n negatiewe invloed op boere gaan hê.
“Ons is nie oortuig dat Randwater wel oor die nodige tegnologie, en die departement oor die nodige vaardighede beskik nie,” sê Steven Vermaak, die voorsitter van TLU SA se Watersake Komitee. “TLU SA sukkel nou reeds hoe lank om ‘n dispuut oor water namens lede opgelos te kry. Ons wag ook steeds op terugvoer oor die installering van watermeters. Die departement faal daarin om hulleself en die lewensbelangrike hulpbron, water, na behore te bestuur.”
Vermaak het afgesluit deur te sê dat enige onverantwoordelike besluit, soos die herskedulering van besproeiingswater, toekomstige voedselsekerheid in die gedrang kan bring.