TLU SA vra verantwoordelikheid van landbouers tydens die 21-dae afsondering

TLU SA versoek die landbouers van Suid-Afrika om ten spyte van die groot risiko daaraan gekoppel, hulle dagtaak met groot verantwoordelikheid uit te voer tydens die 21-dae verbod op die beweging van mense.

“Die drastiese maatreëls gaan gewis ‘n groot invloed uitoefen op feitlik elke sfeer van die volkshuishouding,” sê Louis Meintjes, president van TLU SA. “Suid-Afrika gaan na dese gewis anders daar uitsien. Die uitdaging vir almal in die land is met watter ingesteldheid hierdie saak aangepak en deurgesien gaan word.”

Die belangrikheid van landbou is beklemtoon nadat dit as een van die noodsaaklike dienste uitgesonder is om steeds kos te kan voorsien.

Tydens die vergadering met die minister van landbou saam met die taakgroep op 26 Maart 2020, is die inhoud van die begeleidingsbrief vir landbouers ook bespreek.

Die belangrikste punt wat uitgewys is, is dat die inhoud moet ooreenstem met wat in die voorbeeld van Sektor 11B van die regulasies geplaas is.

Elke plaaswerker moet oor so ’n brief beskik en ook sy ID-dokument byderhand hê om die veiligheidspersoneel se taak te vergemaklik.

Die besonderhede wat op die begeleidende brief verstrek moet word sluit in die fisiese adres van die plaas met volle kontakbesonderhede, insluitend kontaknommer en e-posadres en die van en volle naam van die boer, insluitend boer se ID nommer en kontakbesonderhede.

Dit moet ook die verklaring bevat dat die draer (van, volle name en ID nommer) op die plaas werksaam is.

Dit moet verder deur die eienaar van die plaas onderteken word met die datum van uitreiking ook aangedui.

Verder word die instelling/boerdery se amptelike stempel vereis, iets wat boere nie noodwendig oor beskik nie.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA het weereens ’n beroep op lede gedoen om te oorweeg om by Facebook aan te sluit en die TLU SA se amptelike bladsye te volg. In die blad word heelwat inligting versprei wat die boere gaan mis indien hulle dit nie volg nie.

Daar hoef geen kommer te heers oor die veiligheid van jou inligting nie aangesien, indien jou profiel reg opgestel word, kan jy bepaal wie jou inligting mag sien.

Hy versoek lede om asseblief die TLU SA blad te volg en van al die plasings wat daar gepubliseer word kennis te neem.

Die Facebook-blad kan ook gebruik word vir navrae oor die spesifieke bepalings.