Bolhuis: “Roof nie motief vir jongmense se skietdood”
Maroela Media berig dat die privaat speurdiens van Mike Bolhuis ondersoek instel na die koelbloedige moord van twee jongmense wat Sondag op Putfonteinweg in Benoni doodgeskiet is toe hulle voertuig sonder brandstof gaan staan het.
Bolhuis het Maandag aan Maroela Media gesê dat sy span Dinsdag aangestel is om die moordondersoek saam met die polisie se georganiseerdemisdaad-eenheid te ondersoek.
Tans word die motief van die moord ondersoek en hulle is reeds ver gevorderd met die ondersoek en kan in hierdie stadium slegs bevestig dat dit nie roof was nie.
Die twee mense, Johanco Fleischmann (19) en sy vriendin Jess Kuhn (23) is omstreeks 11:00 deur drie mans oorval en doodgeskiet.

Na die voorval het die aanvallers die bakkie aan die brand probeer steek. Lede van die publiek het daarin geslaag om ’n brandblusser in die hande te kry om te verhoed dat die bakkie aan die brandslaan.
Fleischmann se liggaam is met verskeie skietwonde buite sy bakkie aangetref. Kuhn is binne die bakkie gevind met ’n enkele skietwond. Albei is op die toneel dood verklaar.
Geen verdagtes is op hierdie stadium in hegtenis geneem nie.