Reuk van deodorant ruk seun uit koma
Daar steek dalk waarheid in die advertensie dat party mans-deodorante vroue oor hulle voete laat struikel om by die man wat dit gebruik uit te kom.
Dit blyk dat Lynx deodorant ’n ander geheime krag het nada ’n 13-jarige seun uit ’n koma waarin hy vir 9 dae verkeer het, wakker geword het toe hy die reuk van sy gewilde daaglikse deodorant gekry het.
Kacper Krauze het, nadat hy vir 25 minute onder water was in die ysige water van die rivier Eden, wat deur die dorp Cumbria in die Verenigde Koninkryk vloei en deur reddingswerkers uit die rivier gered is, in ’n koma verval waaruit hy nie kon kom nie.
Kacper het in die water geval terwyl hy en sy maats naby die rivier gespeel het. Sy familie het hulle na die toneel gehaas waar hulle moes toekyk hoe brandweermanne hom uit die water haal en aan die paramedici oorhandig.
Hy is na ’n nabygeleë hospitaal gevlieg waar hy kunsmatige asemhaling en hartmassering ontvang het, terwyl sy bloed deur ’n spesiale masjien behandel is wat dit verhit, die koolstof dioksied uit die bloed gehaal en met suurstof vervang het voordat dit weer terug in sy lyf gepomp is.
Hierdie het ’n belangrike rol in sy oorlewing gespeel maar daar was geen manier hoe hulle hom uit die koma wakker kon maak nie.
Een van die verpleegsters het sy ma aangeraai om van sy toiletware saam te bring sodat hulle hom daarmee kan was. Sy ma het ook die kannetjie deodorant saamgevat en toe sy daarvan by hom spuit het hy onmiddellik sy oë oopgemaak.
Navorsing het gewys dat dit help om die sintuie te stimuleer om mense uit ’n koma wakker te maak. Die sintuie van iemand wat in ’n koma is bly gewoonlik steeds aktief waarvan die reuk, gevoel en klank van die laastes is wat afskakel en is dit heel moontlik dat die reuk van die deodorant Kacper se brein gestimuleer het om uit die koma te ontwaak.