Botswana: Verbod op Olifantjag opgehef
Botswana het sy verbod op die jag van olifante in die land opgehef weens konflik tussen plaaslike inwoners en olifante aangesien die olifante met tye die dorpies se totale oes vernietig.
Kritici teen die verbod beweer dat hierdie verbod groot probleme veroorsaak vir bestaansboere en diegene wat voorheen voordeel uit die jag van olifante getrek het.
Botswana het na berekening sowat 130 000 olifante, die wêreld se grootste bevolking van hierdie diere. Daar word verder beweer dat die verbod veroorsaak het dat roofdiere gedurende hierdie tydperk toegeneem het en verdere verliese onder die veekuddes veroorsaak.
Volgens bewaringsgesindes is die besluit polities geïnspireer en kan dit die land se internasionale reputasie ten opsigte van bewaring in gedrang bring, so-ook die inkomste uit toerisme wat die land se tweede grootste bron van inkomste naas diamante is.
Die meeste olifante kom in die noordelike deel van die land voor waar hulle oor die grense van Namibië, Zambië en Zimbabwe swerf. Volgens die jongste opnames blyk dit dat die olifantgetalle nie styg soos deur die plattelandse bewoners beweer word nie.
Volgens die mense wat teen die opheffing van die verbod gekant is, is hierdie aksie ’n poging om die gewildheid van President Mokgweetsi Masisi ’n hupstoot te gee voor die land se volgende algemene verkiesing wat in Oktober sal plaasvind.
Die verbod op olifantjag is deur sy voorganger, Ian Khama, gedurende 2014 ingestel.
Volgend die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur (IUCN) is daar sowat 415 000 olifante oor in Afrika met getalle wat afneem weens die stroping van olifante vir hul ivoor.
Alhoewel die veldtog teen die stroping van olifante vir hul ivoor groot momentum op internasionaal vlak verkry het, is daar nie eenstemmigheid oor hoe om die bedreiging van menslike nedersettings deur die groot, vernietigende olifanttroppe te voorkom en te beheer nie.