Eerste gevalle van Cholera in Beira aangemeld
Die Mosambiekse regering het bevestig dat reeds 139 bevestigde gevalle van cholera in Beira aangemeld is nadat geweldige hoeveelhede water deur die stad gespoel het nadat die sikloon Idai verwoesting in die land gesaai het.
Ten minste 468 bevestigde gevalle van lewensverlies is aangemeld terwyl ’n geskatte 1,85 miljoen mense deur vloedwater ontwrig is nadat die sikloon groot gebiede van die land getref het. Ongeveer 946 reddingswerkers het aan die twee week lange soektog en reddingsoperasies deelgeneem.
Die uitbraak van cholera, wat deur rioolbesmetting veroorsaak word, was dus te wagte.
Dokter Sonder Grense (MSF) se noodwerkers het bykans onmiddellik ingespring met noodlediging-aksies om mediese hulp aan die geteisterde gebiede te verleen.
Die organisasie se koördineerder in Beira, Gert Verdonk, het in ’n verklaring gesê dat die organisasie reeds besig is om die land se Ministerie van Gesondheidsorg by te staan om pasiënte wat vermoedelik cholera onder lede het te behandel.
Drie gesondheidsorg sentrums is reeds opgerig en behandel sowat 200 pasiënte per dag wat ook inenting teen die siekte insluit.
Vragvliegtuie land daagliks met die nodige voorrade asook mediese- en logistieke-personeel vir Beira en regoor die land.
Hulle onderhandel ook tans met die Ministerie van Gesondheid oor ’n uitgebreide inentingsveldtog in die gebied en daar word gewag op sowat 900 000 inentings wat hopelik teen Maandag beskikbaar sal wees.
Die aantal gevalle van cholera-besmetting sal beslis baie toeneem, veral in die meer afgesonderde landelike gebiede.