Gratis hondsdolheid entstof beskikbaar
Deur Dr Minette Nel (BVSc)
THABAZIMBI – ‘n Veterinêre verskaffer het 300 dosisse hondsdolheidentings aan Thabazimbi Dierekliniek beskikbaar gestel. Hierdie entstof is gratis, alhoewel die naald en die spuit R10 elk beloop.
As u troeteldier nog nie by u veearts of deur die staatsveearts vir 2013 ingeënt is nie, laat dit so gou moontlik by ‘n veearts doen.
Hondsdolheid veroorsaak jaarliks die dood van 55 000 mense wêreldwyd. Dit beteken, een mens gaan elke tien minute aan hondsdolheid dood.
Honde is die hoofbron van oor die 90% van menssterftes nadat hul hondsdolheid opgedoen het. Die onnodige sterftes kan voorkom word deur u honde, sowel as katte, te laat ent.
Daar is twee vorms van hondsdolheid. Die “dol” of aggressiewe vorm en die dom of paralitiese vorm. Die eerste simptome sluit in senuweeagtigheid, angstigheid, isolasie en gedragsveranderinge. Byvoorbeeld, ‘n vriendelike dier wat skielik onvoorspelbaar en byterig word. Met die aggressiewe vorm is die dier rusteloos, geïrriteerd, kan blaf en byt na denkbeeldige voorwerpe. Hulle word dan meer aggressief en kan mense, diere en dooie voorwerpe aanval.
Met die dom of paralitiese vorm, kan die hond se blaf se klank verander en omdat hulle sukkel om te sluk, is daar oormatige speeksel. “Dropped jaw” (onderkaak wat hang) ontwikkel as die kouspier aangetas word. Sommige eienaars mag dink daar sit iets in die hond se keel vas. In die proses om dit te probeer uithaal, kan hul hulself aan die virus blootstel.
Die volgende webwerf is baie behulpsaam oor die simptome van hondsdolheid en die behandeling wat mense moet kry na ‘n byt of kontak met speeksel van ‘n vermoedelike hondsdol dier: http://wwwlcdc.gov/rabies/index.html.
Diere moet geënt word op 12 weke, of drie maande, gevolg deur ‘n booster ‘n maand later. ‘n Jaarlikse booster is nodig. Honde wat na KwaZulu-Natal reis, se entings moet op datum wees, aangesien dit ‘n hoë risiko area is.
Indien u enige navrae het, kontak u dier se veearts.
(Bron: Professor A Leisewitz, Vetmed magazine Junie/Julie 2012)