General

WRSA se eerste kongres

NYLSTROOM – Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA) nooi alle joernaliste uit om aansoek te doen vir media-akkreditasie om sy eerste nasionale kongres by te woon wat van 10 – 12 April 2013 by Castle de Wildt naby Modimolle/Nylstroom plaasvind. Stuur ‘n e-pos aan media@wrsa.co.za vir meer inligting.

Geakkrediteerde media sal gratis toegang kry tot alle verrigtinge op 11 en 12 April, wat die Bosbraai-funksie op 11 April insluit. Dit sluit nie die bywoning van die Galadinee op 12 April in nie.

WRSA is die nasionale verteenwoordigende liggaam vir die wildbedryf. Dit bevorder, dien en beskerm die belange van wildboere en streef daarna om die ekonomiese vatbaarheid en groei van die bedryf te verbeter.

Die wildbedryf word gereken as die vyfde grootste bedryf in die landbousektor, en dra jaarliks sowat R10 miljard by tot die ekonomie van Suid-Afrika. Dit word ook toenemend beskou as een van die min werklike bydraers tot ‘n groen ekonomie. Daar is na raming 10 000 private wildplase wat 15 miljoen hektaar beslaan en habitat voorsien aan 18 miljoen stuks wild, driekeer meer as wat in staatsbeheerde nasionale parke en reservate voorkom.

In die afgelope jaar, was die wildbedryf telkens in die nuus oor spesifieke kwessies soos:  Die voortslepende probleem met renosterstropery en die WRSA se steun om die nasionale handel in renosterhoring te wettig as die enigste volhoubare oplossing (dit word juis nou in Maart by die CITES COP16 in Bangkok bespreek); immobilisering van wild in noodgevalle (of die M99-kwessie) wat tot ‘n konfrontasie tussen die WRSA en die SA Veeartsenykundige Raad gelei het; die snotsiekte-dilemma en die impak daarvan op beesboerdery in die omgewing van wildplase waar blou wildebeeste voorkom; die kontroversie rondom die teel van skaar kleurvariasies by wild, soos bv, goue wildebees, goue gemsbok, swart impala, ens; en nuwe rekordpryse wat wild by veilings behaal, soos die R26 miljoen wat verlede jaar vir ‘n buffelbul betaal is.

Meer onlangs het die skandaal oor die onverklaarde inhoud van gewilde vleisprodukte en wildsbiltong verbruikers geskok. Dit is veral kommerwekkend vir die wildbedryf wat juis baie hard daaraan werk om hoë gehalte wildsvleisprodukte aan verbruikers beskikbaar te stel. Die wildvleisskema sal in detail by die kongres bespreek word.

Sprekers by die kongres is genooi weens hulle spesifieke kundigheid, en sluit in: Ron Thomson, welbekende afgetrede wildbewaarder en skrywer; Theo de Jager, visepresident van Agri SA; John Hume, private renostereienaar en –teler; prof. Louw Hoffman (professor in Vleiswetenskap by di e Universiteit van Stellenbosch), wat aan die paneelbespreking oor die Wildvleisskema sal deelneem.

Verskeie ander deskundiges in die wildbedryf, veeartse en navorsers sal deelneem aan paneelbesprekings en praktiese demonstasies, soos bv. die vervoer en onthoring van ‘n renoster; blus van ‘n weghol-veldbrand met helikopters, en verskeie ander demonstasies.

‘n Handelsuitstalling van ongeveer 50 bedryfspesifieke handelaars en verskaffers aan in die wildbedryf word gelyktydig met die kongres gehou.

WRSA sal die wenners in die verskeie kategoriee van  Wildboer van die Jaar aankondig.

Vir navrae kontak Magda Naudé by media@wrsa.co.za of 082 452 5878.