General

Solidariteit Helpende Hand gee raad oor studierigtings in 2013

Daar is gereeld oproepe wat Helpende Hand hanteer wat daarop dui dat baie ouers en kinders hopeloos is oor hulle toekoms.

Tydens besoeke aan skole en geselsies met tieners is dit duidelik dat baie onseker voel oor hulle toekoms. Volwassenes en media praat gereeld oor hoe onderwys agteruit gegaan het en dat jongmense nie meer werk kry nie, sonder om te besef hoe dit ons jongmense laat twyfel. Dit is so dat jongmense se realiteite anders lyk as voorheen en dat die uitdagings wat hulle vandag moet oorkom, vir ons vreemd is. Tog moet hulle perspektief behou. Net soos daar sekere uitdagings is, is daar ook talle nuwe geleenthede waarvan hulle gebruik kan maak.

“Watter studierigtings is dan die beste om te gaan studeer?”, word gereeld gevra. Die beste opsies is sekerlik die beroepe waarin jy die meeste geld kan maak en altyd verseker gaan wees van werk. Maar om met hierdie gesindheid ‘n beroep na te jaag, eerder as om jou passie na te jaag, gaan jy waarskynlik nooit jou studies klaar maak nie omdat jy sielsongelukkig is.

Daar skop elke jaar groot hoeveelhede studente op, selfs studente met groot beurse. Dit is opvallend dat baie van hierdie studente wat opskop of van kursus verander, aanvoer dat hulle nie gelukkig was nie en ook nie gevoel het die sekere rigting by hulle pas nie.  ‘n Verdere oorsaak kan onsekerheid oor die toekoms wees en ‘n tekort aan hoop. Leerders pak dus nie hulle studies met oortuiging aan nie, want “ek gaan in elk geval nie werk kry nie”, is ‘n bekende argument om doelloos rond te dobber. Daar is natuurlik ook die groep wat ‘n gebrek aan vasberadenheid het en dus elke keer ‘n “makliker” opsie wil kies. Hulle kyk die belang van passie, hulle unieke sterk punte en veral roeping mis.

Daarom moet onsekere leerders en jongmense nie moedeloos raak as hulle nie keuring kry vir hulle eerste studiekeuse nie. Moet ook nie noodwendig die “veilige” opsie maak nie, want daar gaan nie tyd in jou lewe wees vir “terugval” in vandag se arbeidsmark nie.

Kies ‘n rigting volgens jou belangstelling, aanleg, persoonlikheid en veral passie. Leer ken jou sterk- en swakpunte.

In vandag se arbeidsomgewing is dit hoogs waarskynlik dat werkers verskeie kere totaal van beroep kan verander. Die kans bestaan ook dat vandag se matrieks waarskynlik ‘n beroep gaan beoefen wat nog nie vandag bestaan nie, vanweë die groeiende tegnologie en aanhoudende vermeerdering van kennis. Verder is daar ook die nuwe tendens van lewenslange leer wat beteken persone van alle ouderdomme moet aanhou leer en kennis versamel om hulself so indiensneembaar as moontlik te hou. Jongmense wat weet wat hulle wil doen en hard daarvoor werk, kan sukses bereik, ongeag hulle studiekeuse. Wanneer jy met sigbare passie werk, is dit baie moeilik vir potensiële werkgewers om dit mis te kyk.

Raad vir jou keuse van studierigting:

1. Ons lewe in die era van tegnologie. Enige beroep in die rigting het baie moontlikhede vir die toekoms.

2. Entrepreneurskap is krities. Jy kan dit kombineer met enige rigting en dan vir jouself werk skep indien jy nie ‘n werk kan kry nie of verkies om vir jouself te werk.

3. Fokus eerder op jou roeping as op ‘n beroep waarin jy “moontlik” baie geld kan verdien.

4. Kies ‘n rigting wat jou sal opgewonde maak om werk toe te gaan want dan gaan jy die beste word.

5. Fokus op dit wat jy reeds goed kan doen en bou jou sterkpunte uit.

6. Vind uit wat beroepe behels waarin jy belangstel, die lekker en die sleg. Dit sal jou baie help om te bepaal of jy in die rigting gaan pas en of jy moet aanpassings aan jou kursus maak. Vakansies is die ideale tyd vir die eksperiment.

7. Moenie bang wees om verkeerd te kies nie, solank jy net begin. Jy kan altyd van plan verander en aanpassings maak soos jy groei en jouself verder leer ken.

8. Gaan voluit! Niemand wil ‘n lui werker aanstel nie.