Community

Nuwejaarsvoorneme

Voor mens kan kyk wat die nuwe jaar inhou, moet mens eers ‘n terugblik van 2012 hê en hoe ons munisipaliteit gevaar het.

Ek dink mens hoef net na die vele dienslewering en infrastruktuur probleme te kyk om te weet dat dit glad nie ‘n goeie jaar was nie. Dan praat ons nie eers van hoe stadig die diensverskaffers van die munisipaliteit betaal is nie.

Die laaste ses maande was egter ook gekenmerk deurdat sekere inwoners en belastingbetalers geteiken was en die manier waarop sekere aksies met arrogansie en geen empatie vir die inwoners gedoen is.

Hier is slegs ‘n paar voorbeelde van sulke aksies en die verkeerde metode wat gevolg is: Die registrasie van boorgate; die registrasie van grootmaat watervoorsiening – Gastehuise en Besighede; ignorering van die versoeke deur die inwoners van Northam ten opsigte van hulle probleme; die waterrekening-probleme van die hoewe-eienaars van Wildebeestlaagte, Northam en die manier hoe hulle privaat watermeters summier verwyder en gevat het en die weiering van die munisipaliteit om die waterkar te stuur na die informele nedersetting in Northam sodat die mense toegang tot vars drinkwater het, soos deur die wet voorgeskryf.

‘n Mens hoef nie ‘n voorspeller te wees om te sê dat verskeie regsaksies en hofsake op ons munisipaliteit in die nuwe jaar wag nie.

Ek, as inwoner en belastingbetaler, ondersteun die aksies aangesien dit die enigste werkbare alternatief is wat oorbly.

Ek doen dus ‘n beroep op alle inwoners van Thabazimbi, en omgewing, dit sluit ook ons myndorpe in, om betrokke te raak en aan te sluit by een van die organisasies soos: belastingbetalers, inwoners, sakekamer, georganiseerde landbouverenigings, ens.

Verder doen ek ‘n beroep op diegene wat nog nie as kieser geregistreer is nie, om dit een van jou 2013 voornemens te maak. Dit is die metode om jou stem te laat hoor deur die kruisie te maak.

‘n Voorspoedige en gelukkige 2013 vir alle inwoners van die Thabazimbi gebied.

Piet Strydom – DA Raadslid