’n Nuwe vlermuis-spesie is vernoem na ’n oud-Warrie.
Dié besondere eer het die wetenskaplike, me. Lientjie Cohen, die dogter van mnr. Ben Cohen van die Leeuwpoort Quarry tussen Bela-Bela en Thabazimbi, te beurt geval.
Cohen is ’n oudleerder van Laerskool Warmbad en Hoërskool Warmbad en werk op die oomblik by Mpumalanga se toerisme-en-parke-agentskap.
“Ja, ek moet bieg my vriende noem my deesdae gereeld ‘vlermuisvrou’ of ‘batwoman’,” het Cohen geskerts toe Die Pos haar gebel het.
“Maar ’n mens kan nie beskryf hoe oorweldigend dit is en as ’n nuwe spesie na jou vernoem word nie. Dit is ’n groot voorreg.”
Volgens Cohen is sy al meer as ’n dekade lank besig met die vlermuis-projek en het skoon opgewonde geraak toe sy oor die soogdiertjies begin praat het. “Die meeste mense is nie altyd bewus van die waardevolle rol wat vlermuise speel in insekbeheer van onder meer malariamuskiete nie. Ook in die saadverspreiding van bome soos die kremetart wat as die boom van die lewe bekend staan.”
Nuus oor Cohen se groot prestasie is verlede week in ’n artikel in die hoogaangeskrewe internasionale wetenskap-vaktydskrif Public Library of Science bekend gemaak. Volgens die artikel is altesame vier nuwe spesies van die hoefystervlermuis in Oos- en Suider-Afrika ontdek nadat wetenskaplikes leidrade soos DNS-data en die hoogste frekwensie sonarklanke van hierdie vlieënde soogdiere sorgvuldig nagevors het. Een van die spesies is nou na Cohen vernoem.
Cohen se hoefystervlermuis (Rhinolophus cohenae) is die eerste keer in 2004 deur Cohen in die Barberton-berglandnatuurreservaat naby Barberton ontdek. Sy is ’n aktiewe lid van die vlermuisbelangegroep vir Gauteng en die noordelike streke.
“Ons het hierdie vlermuisspesie na me. Cohen vernoem ter erkenning van haar beduidende bydrae tot die bewaring en ontdekking van nuwe vlermuisspesies in Suid-Afrika, en veral in Mpumalanga,” het prof. Peter Taylor van die Universiteit van Venda, gesê. Hy is een van die vlermuiskundiges en evolusionêre genetici wat die ondersoek gelei het.
Die spesie kom volgens aanduidings slegs in die Mpumalanga-provinsie van Suid-Afrika, in die Sudwala-omgewing naby Nelspruit, voor.
“Ek is nie bewus van enige ander vlermuisspesie wat endemies is in Mpumalanga nie, wat hierdie spesie uit ’n bewaringsoogpunt uiters belangrik maak,” het Taylor gesê.
Die ander drie nuwe spesies is Smithers se hoefystervlermuis, die Mosambiekse hoefystervlermuis en die Berg Mabu-hoefystervlermuis.
Daar is voorheen aanvaar dat slegs een soort groot hoefystervlermuis, Hildebrandt se hoefystervlermuis, wydverspreid deur die hele Oos-Afrika, in die tropiese habitats van Zimbabwe sowel as in Mpumalanga voorkom.
“Nou weet ons egter dat altesaam vyf verskillende spesies groot hoefystervlermuise in Sentraal- en Oos-Afrika aangetref word,” het Taylor gesê.
Dit is werklik baie moeilik om hierdie vlermuise bloot op grond van voorkoms en morfologie van mekaar te onderskei. Op grond van DNS-vergelykings was dit egter vir die wetenskaplikes moontlik om duidelike verskille tussen die spesies uit te wys.
In 1980, met die ontdekking van vlermuise in Zimbabwe wat effens afwyk van Hildebrandt se hoefystervlermuise, het wetenskaplikes die eerste keer snuf in die neus gekry. ’n Dekade later is nóg afwykende vlermuisbevolkings ontdek — veral in Mpumalanga en meer onlangs ook in Mosambiek.
Die DNS-ontledings met behulp van ’n molekulêre klok het nog verrassings opgelewer. Hierdie spesies is betreklik oud en het oor die afgelope vyf tot twee miljoen jaar in die Plioseentydvak ontwikkel. — LiN Media/Die Pos
