Rooi Ivoor skaars en trofee wildveiling

Goue Gemsbok bul en -koei saam gewone gemsbok koeie. Die groep is vir R1 miljoen verkoop.

VAALWATER – Die tweede Rooi Ivoor Produksie Veiling van skaars- en trofee-wild het op 30 Junie by die Oljaco Veilingskrale op Vaalwater plaasgevind.

Een van die hoogtepunte op die veiling was die groep van 17 gemsbok koeie, met goue gene, wat saam met ’n goue gemsbok bul en ’n goue gemsbok koei vir R1 000 000 verkoop is. Negentien blouwildebees koeie wat goue gene bevat is saam met ’n goue wildebees bul vir R950 000 verkoop. ’n Koning wildebees bul en koei is saam met 10 blouwildebees koei, dragtig van die koning wildebees bul vir R950 000 verkoop. ’n Swart rooibok ram met 12 rooibok ooie het R276 500 behaal.

Goeie prys is ook op die buffels behaal. ’n 19 Maande oue bulletjie, met ’n horing lengte van 27”, is vir R200 000 verkoop. Dit wys net weer dat kopers bereid is om vir goeie gene, te betaal. Die duurste dragtige koeie met kalwers is vir R725 000 stuk verkoop. Dragtige buffelkoeie is vir R710 000 stuk verkoop. Die hoogste prys vir buffel verse was R475 000.

Twee swartwitpens dragtige verse is vir R320 000 verkoop. R300 000 was die hoogste prys wat vir ’n swartwitpens bul betaal is. Bastergemsbok koeie behaal R180 000 stuk.

Volgens mnr Niel Swart van Vleissentraal  Bosveld wat die veiling aangebied het is goeie pryse vir die ander wild ook behaal. Die feit dat diere verseker was, asook dat kopers presies geweet het watter diere dragtig is, en horing lengtes beskikbaar was, het tot die goeie pryse bygedra. Vleissentraal Bosveld bedank almal vir hulle ondersteuning.

Die gemiddelde pryse wat vir vroulike teelgroepe op hok behaal is, is as volg: 3 dragtige baster gemsbokkoeie is teen ‘n gemiddeld van R180 000 verkoop, 1+2 basterhartbeeste: 1 bul en twee dragtige koeie is verkoop teen R15 000, 16 blouwildebeeste teen ‘n gemiddeld van R1684, 5 dragtige buffelverse teen ‘n gemiddeld van R445 000, 3+3 buffelkoeie met kalwers (dragtig) teen ‘n gemiddeld van R675 000, 10 dragtige buffelkoeie teen ‘n gemiddeld van R603 500, 3 elande teen ‘n gemiddeld van R4750, 1+18 goue gemsbokke (teelgroep: goue gemsbokbul, 1 goue gemsbokkoei, 17 dragtige gemsbokooie met goue gene) teen R1 000 000, 1+19 goue wildebeeste (teelgroep: 1 goue wildebeesbul, 19 dragtige wildebeeskoeie met goue gene) teen R950 000, 1+11 Koningswildebeeste (teelgroep: 1 koningswildebeesbul, 1 koningswildebeeskoei, 10 dragtige wildebeeskoeie) teen R950 000, 1+12 swart rooibok (teelgroep: 1 swart rooibokram, 12 dragtige rooibokooie) teen R267 500, 15 njalas teen ‘n gemiddeld van R6500, 26 rooibokke teen ‘n gemiddeld van R810, 12 rooihartbeeste teen ‘n gemiddeld van R4183, 1 rooiribbok ooi teen R1400, 10 sebras teen ‘n gemiddeld van R3840, 21 rooibokke –splitgene teen ‘n gemiddeld van R6333, 15 witblesbokke teen ‘n gemiddeld van R2900, 2 witrenosters teen ‘n gemiddeld van R180 000, 2 dragtige Zambiese swartwitpensverse teen ‘n gemiddeld van R320 000 en 14 Zambiese x swartwitpenskoeie teen ‘n gemiddeld van R264 286. Die manlike diere het die volgende gemiddelde pryse behaal: 1 bastergemsbok teen R27500, 4 blesbokke teen ‘n gemiddeld van R1800, 10 blouwildebeeste teen ‘n gemiddeld van R3035, 1 volwasse buffel teen R260 000, 1 jong buffelbul teen R200 000, 3 elande teen ‘n gemiddeld van R10833, 4 gemsbokke teen ‘n gemiddeld van R6000, 8 koedoes teen ‘n gemiddeld van R12 938, 4 njalas teen ‘n gemiddeld van R8500, 2 rooihartbeeste teen ‘n gemiddeld van R5050, 2 swartwitpense teen ‘n gemiddeld van R167 500, 7 waterbokke teen ‘n gemiddeld van R9571, 2 wit blesbokke teen ‘n gemiddeld van R3200, 1 jong witrenoster teen R130 000 en 1 Zambiese swartwitpens teen R130 000.

Die omset was R20 561 300.

Want to Receive Weekly Kwevoel Updates in Email?

We don’t spam! Read our privacy policy for more info.