Helen Park Jeug by DA protes

Die DA het op Maandag ‘n protes optog gehou teen die swak onderwys in Limpopo.

POLOKWANE – Ongeveer 1200 DA Jeuglede het op Maandagoggend 2 Julie vanaf die DA-kantoor na die onderwysdepartement se kantoor opgeruk om protes aan te teken teen die swak onderwys in die provinsie.

DA Raadslid van Northam, mnr Piet Strydom en drie Helen Park DA-Jeugkomitee-lede het ook die optog bygewoon.

Desireé van der Walt, DA-koukusleier in Limpopo, het gesê “’n gemeenskap wat nie bereid is om op te staan vir die regte van sy kinders nie, misluk om eienaarskap vir die toekoms te aanvaar”.

Die groep het verby die ANC-hoofkantoor, Frans Mohalala-huis in Biccardstraat, geloop en ekstra hard gesing. ANC-lede wat op die sypaadjie gestaan het, het die DA-lede uitgejou.

Mbali Ntuli, DA-jeugleier, het voor die onderwysdepartement se kantoor in Biccardstraat gesê die optog is namens alle kinders wat dit nie kon bywoon nie.

“Dit mag nooit, ooit weer gebeur dat leerlinge nie handboeke het nie,” het sy gesê.

Sy het daarna saam met die optoggangers “we want books, we want books” gedreunsing.

Dickson Masemola, LUR vir onderwys, het geweier om ’n griefskrif te ontvang en het Naphtali Molope, bestuurder van menslike hulpbronne in die departement, gestuur om dit te doen.

Die DA eis daarin onder meer dat alle handboeke vir 2013 reeds in November by skole afgelewer moet wees.