Zille stuur bus vir Helen Park

Northam DA-lede oppad na die optog in Johannesburg. Die bus het reeds 04:00 uit Northam vertrek.

NORTHAM – 65 DA-afgevaardigdes van Helen Park in Northam het saam met DA raadslid, mnr Piet Strydom, die optog ten gunste van jeugloonsubsidie in Johannesburg op Dinsdag 15 Mei bygewoon.

Strydom, wat in die “voorste linies” was, is een van die vele Da-lede wat deur Cosatu met klippe raak gegooi is. Hy is ook deur traangas, wat deur polisielede gebruik is, in die gesig getref. Die personeel van ‘n nabye motorhandelaar het hom ingeneem en met melk en water behandel.

“Dit gaan ons nie keer om op te staan vir dit waarin ons glo nie.” Het hy aan Kwêvoël gesê.

Die DA het aanvanklik beplan om van die Beyers Naudé-plein in die Johannesburgse middestad na Cosatu-huis in Braamfontein te stap om protes aan te teken teen Cosatu se teenkanting van die jeugloonsubsidie. Chaos het egter uitgebreek toe die twee groepe mekaar in Jorissenstraat ontmoet het.

Nadat die DA by Jorissenstraat ingedraai het, het van die Cosatu-lede op hulle afgestorm. Hulle het stukke papier na die DA gegooi en daarna klippe en tot selfs takke van omliggende bome afgeruk om die DA-lede by te kom.

Die DA het herhaaldelik gedreunsang: “Ons is vreedsaam”, terwyl Cosatu gesing het dat DA moet “voertsek” en “f*k*f”.

Die DA beweer Cosatu-leiers het hulle geïntimideer, geweld aangehits en onwettig betoog en het Woensdag 16 Mei strafregtelike klagte teen die Cosatu-leierkorps ingedien.

Mmusi Maimane, nasionale DA-woordvoerder, het gesê hulle bestudeer videomateriaal van die optog sodat hulle individue in Cosatu by die polisie kan aankla.

Helen Zille, DA-leier, het aanvanklik die optog gelei. Sy het ‘n koeëlvaste baadjie aangehad en kortliks die skare toegespreek, maar is deur die plisie se BBP-eenheid in ‘n voertuig gelaai en na veiligheid geneem toe gemoedere begin warm raak.

Volgens Strydom was daar nagenoeg 10 000 DA-lede wat by die optog betrokke was.