Moedige Dewald rus nou

Die gemeenskap van Thabazimbi groet Dewald Swart met ‘n bedroewe hart nadat hy op Donderdag 10 Mei 2012 gesterf het.

THABAZIMBI – Familie en vriende van Dewald Swart is in rou gedompel nadat hy op Donderdag 10 Mei die stryd teen kanker verloor het.

Dewald is gebore op 17 Januarie 1986 in Thabazimbi. Hy was van Graad 1 – 7 in Laerskool Thabazimbi waar hy uitgeblink het op die rugbyveld en ook gedien het op die leerlingraad.

Daarna gaan hy na die ACE skool, en is as hoofseun verkies in 2004 en 2005.  Gedurende hierdie tyd speel hy vir die Hoërskool Frikkie Meyer se eerstespan rugby, en is ook deel van die span wat in 2005 die Beeldtrofee gewen het.

Hy studeer vanaf 2007 – 2009 aan die Universiteit van Noord-Wes en behaal sy B.Com Toersime en Rekreasie Graad in Maart 2010.

Kort hierna in April 2010 word Dewald gediagnoseer met kanker. Hy ondergaan +70 chemosessies en ook bestraling, maar verloor ten einde die stryd teen kanker op 10 Mei 2012.

Dewald se jonk wees dae was min, maar sy goeie leierseienskappe en aangename persoonlikheid het hom ‘n beminde persoon gemaak. Hy was nooit skaam om sy Christenskap uit te leef nie, en was positief tot op die einde toe.

“Aan die gemeenskap wat almal deel gehad het aan Dewald en veral ook u bydrae met die laaste behandelings, word ons dank oorgedra. Julle het Dewald die hoop gegee op herstel, en moedig laat veg aan die verwoestende siekte tot die einde.

Dewald jy was ‘n voorbeeld vir ons almal. Jou lewe getuig daarvan, en al is dit hoe swaar, weet ons waar jy nou is, het jy ‘n nuwe liggaam en geen pyn nie. Ons salueer jou – tot ons weer ontmoet.” Jannie, Christie en Arrie.