Tiener piekfyn na kobra haar twee keer pik

Die van Dyk gesin – Van links: George en Elmarie van Dyk saam met hul kinders, GC, Roelien, Joliene (slagoffer), Pieter en Christelle.

Blitse optrede  het vir Joliene van Dyk (14), ‘n Graad 8-leerling van Hoërskool Frikkie Meyer in Thabazimbi, maande se operasies en terapie gespaar nadat sy in die vroeë oggendure van 9 Januarie twee keer deur ‘n Mosambiekse spoegkobra in haar bed gepik is.

Net soos die geval van Mikayla Robbertse (5), het Joeliene gelê en slaap toe sy iets koud teen haar lyf voel beweeg. “Ek het my hand uitgesteek en koue rubber gevoel – die volgende oomblik staan ek toe regop op my bed met die slang in my hand!”

Joliene het die slang van haar af weggegooi, maar nie voordat hy haar ‘n tweede keer skrams op die regterpols gepik het nie. “Ek het geskree en besef ek is op my regterarm gepik en na my ouers se kamer gehardloop.”

Joliene se pa, George van Dyk, het opgespring en die slang onmiddellik begin soek terwyl haar ma, Elmarie, die dokter en hospitaal gebel het. George het die slang onder ‘n kas in Joelene se kamer gekry, hom doodgemaak en geïdentifiseer.  “Ek ken gelukkig slange goed en het dadelik geweet dat dit die Mosambiekse spoegkobra is, daarna het ons die dokter ingelig en hospitaal toe gejaag.”

Die Van Dyk’s bly op die plaas Holland, sowat 65km op die Dwaalboom-pad buite Thabazimbi. “Vandat Joliene die eerste keer gegil het totdat ons by die Mediclinic Hospitaal in Thabazimbi gestop het was ‘n halfuur,” vertel George. “Daargekom het Dr. Pieter de Kock saam met die hospitaal se personeel reggestaan met slangteengif en ‘n drip.”

Joliene is onmiddellik 11 ampules (110ml) teengif toegedien om die slang se gif af te breek. Die Maandag is sy vir veiligheid oorgeplaas na die Pretoria-Oos Hospitaal waar sy gemonitor is en skaars ‘n week later, op Saterdag 14 Januarie, is sy weer by die huis met ‘n effense  geswelde arm en slegs ‘n klein bytmerkie.

“Dinge kon so anders verloop het…” sê George, “maar danksy die dokters se kennis, die regte behandeling en die gemeenskap se gebede is Joliene binne ‘n week weer tuis.”

Verlede week het ons berig van Mikayla van Lephalale wat ook in haar bed deur ‘n Mosambiekse Kobra gepik is. Die ooreenkoms tussen Joliene en Mikayla se gevalle stem in baie gevalle ooreen. Beide is in hul bed twee keer deur ‘n Mosambiekse spoegkobra gepik. Beide was binne ‘n halfuur by die hospitaal gewees. Alhoewel Ellisras Hospitaal nie die presiese hoeveelheid slangteengif wat aan Mikayla gegee is kon bevestig nie, het sy volgens haar ouma, Charmain Robbertse, slegs twee ampules (20ml) slangteengif ontvang, terwyl Joeliene 110ml (11 ampules) ontvang het.

Voorsitter van die Transvaal Herpetologiese Vereniging en slangkenner Arno Naudé het gesê hy glo dat mediese personeel nie altyd weet hoeveel slangteengif om toe te dien nie. “Agt tot tien ampules (80-100ml) behoort in so ‘n geval toegedien te word deur ‘n mediese dokter.”

Hy maan mense om nie self slangteengif toe te dien nie, maar dit slegs met behulp van ‘n  dokter te doen aangesien ‘n klein persentasie van die bevolking allergies vir teengif kan wees. “Dokters weet hoe om sulke situasies te hanteer.” LiN Media/Noordelike Nuus