Dekade stryd teen Diabetes

THABAZIMBI – ‘n Jong inwoner van Thabazimbi, Marnus Dippenaar, stry vanjaar alreeds 10 jaar teen Diabetes.
Marnus (18), ‘n Matriekleerling van Hoërskool Frikkie Meyer, is reeds op agt jaar met tipe 1 Diabetes gediagnoseer. Volgens Marnus was sy simptome die tipiese Diabetes simptome: swak visie, gewigsverlies, heeltyd dors, wou heeltyd urineer en geen energie.
Marnus se behandeling bestaan uit vier verskillende pille en 6-15 spuite per dag. Hy het ook onlangs ‘n katarak-operasie ondergaan, een van die vele komplikasies wat hierdie gevreesde siekte tot gevolg het. Die Diabetes Spesialis in Brits, by wie Marnus sedert verlede jaar behandeling ontvang, het hom vertel van ‘n spesiale tipe Diabetes pomp wat outomaties die insulien spuit, soos wat sy liggaam dit sou vereis. Hierdie pomp beloop R30 000 en slegs ‘n paar mediese fondse betaal vir hierdie pomp. Marnus se medies dek nie die pomp nie. Diabetes SA het wel aan Die Kwêvoël gesê dat hulle hom graag sal wil help, maar op hierdie stadium is daar ‘n baie lang waglys.
Hierdie jong seun, wat ‘n kampvegter vir Diabetes is, beoog om volgende jaar in Stellenbosch te gaan swot. Sy eerste liefde is fotografie waarmee hy ‘n enkele kosbare oomblik vir ewig kan laat lewe. Volgens Marnus sal hierdie pomp sy hele lewenswyse drasties verander. Hy sal byvoorbeeld nie meer in die aande hoef op te staan om te spuit nie, “en dit sal my ma ook bietjie meer gerusstel,” sê Marnus met ‘n glimlaggie.
Indien enige iemand belangstel om Marnus finansieel te help om hierdie pomp aan te skaf, skakel Gato, Marnus se ma, by 083 674 7790.

Marnus Dippenaar (18), van HFM wat reeds 10 jaar teen Diabetes veg.