Wys waar jou hart lê

Na afloop van die optog het XA4D sertifikate aan verskeie besigheids-eienaars oorhandig vir hul rolstoel-vriendelike toeganklikheid.

THABAZIMBI – Daar is geRock’n Roll, groen Xtreme Adventures T-hemde aangetrek, sertifikate uitgedeel, blikkies geswaai en optog gehou – alles tydens Loslitdag Vrydag 2 September.

Nasionaal word Loslitdag, die dag vir die bewusmaking van die lot van die gestremdes, gevier deurdat enigeen prettig kan aantrek ter ondersteuning van die land se gestremdes.

In Thabazimbi het verskeie ondernemings, insluitend Die Kwêvoël se span, in die tema van die dag, hul aangetrek soos ware Rock ’n Rollers. Daar was Cyndi Lauper, Lindsay Lohan, Avril Lavigne en Elvis. Absa het ‘n Jack Parrow, Katy Perry, Tina Turner, Natalie King Cole en Joanie Mitchell opgelewer terwyl Wes Voere se personeel hul Boskos-liefhebbers nageboots het.

Ander het weer Thabazimbi se eie Xtreme Adventures 4 the Disabled ondersteun deur groen T-hemde te koop met die leuse “My disability is my strength”. Hier onder tel FNB, Active Life Gym, House of Elegance, Kraaines Meubels, en enkele verteenwoordigers van Pick’n Pay en Wimpy.

FNB en Hoërskool Frikkie Meyer het elk ‘n werknemer vir ‘n tydperk in ‘n rolstoel gehad ter ondersteuning van Loslitdag. (Lees berig elders oor hul gewaarwordinge)

Aan ongeveer 15 besighede en instansies is ‘n sertifikaat toegeken vir rolstoel-vriendelikheid. Dié veelkleurige en vrolike sertifikate is gratis deur Maryna Buys geraam.

Xtreme Adventures het ‘n sit-in gehou op gestremde parkeerplekke deur die dorp en Vrydagmiddag het hulle, saam met HFM-leerders en ander ondersteuners deur die dorp geloop. Heelwat HFM-leerders het aan Loslitdag meegedoen in hul rock-uitrustings, met plakkate en blikkies in die hand.

Saam met donasies en munte is ongeveer R13 000 vir Xtreme Adventures tydens Loslitdag ingesamel.

Xtreme Adventures het almal bedank vir hul deelname en ondersteuning van die dag.

Hennie Pauw