As deel van die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) se gebalanseerde leefstylveldtog vir Maart en April 2011, word alle Suid-Afrikaners aangemoedig om slim keuses te maak en om ‘n gebalanseerde leefstyl te handhaaf om daardeur die voorkoms van kanker te verminder.
“Kundiges glo dat tot 40% van alle kankers voorkom kan word. Die risiko vir kanker kan aansienlik verminder word deur inentings, gereelde oefening, slim eetgewoontes aan te leer, alkoholinname te beperk, blootstelling aan die son te verminder en tabakprodukte te vermy,” sê Sue Janse van Rensburg, KANSA se HUB en self ‘n kankeroorwinnaar van meer as 27 jaar.
“90% van alle kankers word deur die omgewing veroorsaak; terwyl slegs 10% toegeskryf aan oorerwingsfaktore. Deur slim keuses te maak kan jy ‘n gesonde, gebalanseerde leefstyl handhaaf. Rook is byvoorbeeld die grootste, enkele rede vir kanker wêreldwyd, met meer as 44 000 Suid-Afrikaners wat jaarliks weens rookverwante siektes sterf,” het sy bygevoeg.
Ten spyte van die land se sportreputasie en die algemene voorkoms van gimnasiums in al die groot stede en selfs in die kleiner dorpies, het onlangse navorsing aan die lig gebring dat 49% van Suid-Afrikaners nie oefen nie en dat 71% nog nooit op ‘n dieet gegaan het nie. Meer kommerwekkend egter is dat 17% van kinders onder nege jaar oud oorgewig is. Meer as 61% van alle Suid-Afrikaners is oorgewig, geset of gevaarlik vet.(*)
Geprosesseerde kos en kitskos behoort vermy te word aangesien dit met obesiteit en baie soorte kankers verband hou. Obesiteit word ook met baie ander siektes soos kardio-vaskulêre siektes, suikersiekte, beroertes en hoë bloeddruk verbind. Los die kitskos snelweg na obesiteit en pak liewers vir jou ‘n kleurvolle kospakkie met Suid-Afrikaanse vars vrugte en groente vir skool of werk. Of jy nou ‘n ma is of ‘n groot kommersiële kombuis bestuur, maak seker dat jou kombuis ‘Kanker Slim’ is deur slim voedsel keuses en produkte met die KANSA Seël van Erkenning aan te hou om sodoende jou kankerrisiko te verlaag.
Aanvullend tot hierdie slim dieetkeuse moet jy feitlik elke dag minstens 30 minute se fisiese oefening inkry om ‘n gebalanseerde leefstyl te handhaaf. Sulke fisiese aktiwiteite sou huiswerk, tuinmaak, swem, dans en stap insluit. KANSA moedig sy eie personeel aan om ‘n voorbeeld te stel van ‘n gebalanseerde leefstyl met voldoende fisiese aktiwiteite, hulle te voorsien van ‘kanker slim’ maaltydplanne asook die KANSA e-Kick Butt-program vir diegene wat ondersteuning nodig het om op te hou rook. Al hierdie programme is op ons webwerf of deur ons tolvry lyn vir die publiek beskikbaar.
“Ons nooi die publiek om saam met ons ‘n gesonder leefstyl en ‘n kanker slim gemeenskap moontlik te maak,” het Janse van Rensburg afgesluit.
Dis ‘n welbekende feit dat ‘n gebalanseerde leefstyl ook jou gemoedstemming kan bevorder, jou weerstand teen infeksies verhoog en jou risiko vir hartvatsiektes, suikersiekte, hoë bloeddruk en kanker verlaag. Eenvoudig gestel, ‘n gebalanseerde leefstyl wat hierdie dinge insluit, sal bydra om mense beter te laat voel, beter te laat lyk en om ‘n langer en meer genotvolle lewe te lei.
(*) OBESITY IN SOUTH AFRICA deur Julia H. Goedecke,a Courtney L. Jennings,b Estelle V. Lambertc: hoofstuk 7
Uitgereik deur Isabeau Du Preez KANSA, e-pos: isabeaudupreez@gmail.com en telefoon 0726980709, of besoek www.cansa.org.za of skakel KANSA tolvry op 0800 22 66 22 of e-pos by info@cansa.org.za )
Omtrent KANSA
KANSA bied ‘n unieke en geïntegreerde diens aan die publiek en aan almal wat deur kanker geraak word. As die leidende rolspeler in kankernavorsing (meer as R4,5 miljoen word jaarliks spandeer) word die wetenskaplike bevindinge en die kennis opgedoen deur hierdie navorsing aangewend om ons gesondheidsprogramme te rig en om ons waghondfunksie tot groter voordeel van die publiek aan te wend.
Ons ver-reikende gesondheidsprogramme sluit in voorkomings- en opleidingsveldtogte, pasiëntsorg en ondersteuning vir plattelandse kankerpasiënte deur 13 tussentuistes in die groot hoofstede en een hospitium (in Polokwane), ondersteuningsentra wat stoma- en limfedeemklinieke insluit, mediese toerustinghuur, tolvry lyne en ondersteuning aan kinders en hulle gesinne wat deur kanker geraak word deur ons Tough Living with Cancer (TLC) programme. KANSA versprei ook kankerhanteringsgidse in Engels, seSotho, isiZoeloe en Afrikaans wat deur die Nasionale Loteryverspreidings Trustfonds befonds word.
