Helpende Hand se eerste Afrikaanse loopbaangids bekendgestel

Solidariteit Helpende Hand se eerste omvattende loopbaangids wat fokus op skaars en kritieke vaardighede in die Suid-Afrikaanse arbeidsmark is pas deur die organisasie se Afrikaanse Beroepsleidingsdienste vrygestel. Die Helpende Hand Loopbaangids, wat spesifiek vir hoërskoolleerlinge saamgestel is, sal jongmense help om ingeligte loopbaankeuses te maak en hulle terselfdertyd aanmoedig om meer soos entrepreneurs te dink.
Volgens dr Danie Langner, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, sal die gids leerlinge nie net help om die regte studierigting te kies nie, maar hulle ook wys waar vaardigheidstekorte in die arbeidsmark is. “Sodoende sal jongmense na afloop van hulle studies verseker wees van werk en ‘n loopbaan in Suid-Afrika,” sê Langner.

Die gids dek ‘n verskeidenheid onderwerpe wat relevant is vir leerlinge en werkende jongmense. Verskeie kundiges, soos mnr Flip Buys, dr Langner, dr Dirk Hermann, dr Steve Booysen en prof Louis Jacobs, deel hulle kennis en gee jongmense wyse raad oor hoe om ‘n sukses van hulle lewe in Suid-Afrika te maak.

“Indien jy jou aanleg en belangstelling kan kombineer met ‘n skaars en kritieke vaardigheid gaan jy nie net doen waarvan jy hou nie, jy gaan gelukkig wees in wat jy doen,” sê Langner.

Volgens hom is jongmense dan ook verseker van werk as gevolg van die vaardigheidstekort wat tans in Suid-Afrika heers.

Die gids sal jongmense laat dink en hulle opgewonde maak oor die beroepswêreld. “As jy jou roeping gevind het en jou werk vir jou lekker is, is jy halfpad suksesvol in wat jy doen,” voeg Langner by. Volgens hom is dit vir Helpende Hand belangrik om vir kinders hoop te skep vir hulle toekoms in Suid-Afrika.

Onderwerpe wat gedek word sluit in:

  • Is daar ‘n toekoms in Suid-Afrika?
  • Hoe kies ek ‘n beroep/loopbaan?
  • Wat doen ek as ek nog onseker is?
  • Die lewenslange leerproses.
  • Wat kan ek verwag in die beroepswêreld?