VLU skok oor verkragting uitsprake

Mev Tharina Rossel, Presidente van die Vroue Landbou Unie (VLU), het haar skok uitgespreek na media berigte dat uitsprake in twee Suid Afrikaanse howe skynbaar nie die erns en impak van verkragting in die gemeenskap besef en aanspreek nie. Sy het gesê dat dit wil voorkom asof die reg in twee gevalle geregtigheid vertrap het.

In die eerste geval was mnr Kenneth Mapule Makau tot 20 jaar tronkstraf gevonnis maar regter Moses Mavundla het hom vrygespreek om die agbare regter ontevrede was met die taal wat die landdros tydens verhoor gebruik het. Die landdros het na bewering die beskuldigde aangespreek deur te sê dat hy sy “filthy penis” in die slagoffer se mond gedruk het.

Die persoon wat verkrag is, het geen ervaring van geregtigheid nie. Die uitspraak, soos in die media verwoord, van regter Moses Mavundla en waarnemende regter T Phalane dui op kortsigtigheid en ‘n vertrapping van geregtigheid. Die vreemdste is dat daar geen twyfel was dat die krimineel wel die persoon verkrag het nie. Dit is onbegryplik dat so ‘n uitspraak deel kan wees van ‘n grondwetlike bestel.

Beeld het gerapporteer dat twee verkragters, Renier en Dirk Opperman (tans 37) in 2005 in die hooggeregshof in Pretoria tot onderskeidelik lewenslank en 20 jaar gevonnis is. Hulle vonnisse is egter aansienlik verminder op grond van hul verstandelike vermoëns.

Appèlregters J Heher, L Leach en C Lewis het die meerderheidsbeslissing gelewer dat die twee broers ’n lae intelligensie het en ’n gebrek aan insig oor die misdade gehad het. Dit is gewoon nie die punt nie. Die uitspraak maak blatant inbraak op die regte van die twee kinders wat van 2000 tot 2001 herhaaldelik deur die tweeling verkrag en onsedelik aangerand is.

Die punt van tronkstraf is onder andere om die gemeenskap teen kriminele te beskerm. Sal die agbare regters verantwoordelikheid aanvaar indien die twee verkragters ‘weens lae intelligensie en ‘n gebrek aan insig’ voortgaan met hulle veragtelike dade?

Mev Rossel het gesê dat in beide gevalle die regters die reg belaglik maak en dat sulke uitsprake geen bydrae maak om vroue in die verkragtings-Badgdad (Suid Afrika) van die wêreld te beskerm nie. Beide die uitsprake verflou die reg as afskrikmiddel en vertrap die waardigheid van die wat verkrag is.