Geliefde geneesheer verloor stryd teen kanker
THABAZIMBI – Dr Francois van der Merwe (65jr) het op Dinsdag 3 November 2009 die stryd teen kanker verloor.
Francois is op 18 Oktober 1944 in Mambastraat, Thabazimbi gebore. Hy voltooi sy laerskooldae by Ysterberg Laerskool en slaag matriek in 1962 aan die Landbouskool te Brits. Hy voltooi sy Landbou Tegniese Diploma: Veeteelt aan Onderstepoort en verhuis na Mafikeng waar hy sy eggenote ontmoet en in 1966 trou. Hulle verhuis na Betlehem waar hy baanbrekerswerk doen met die stigting van ‘n proefplaas.
In 1969 begin hy sy mediese studies by Tukkies en behaal in 1974 die Graad M.B.ChB. Vakansies en naweke moes hy maar werk as kelner om sodoende te help om die pot aan die kook te hou. Gelukkig was hy ‘n uitmuntende student en het verskeie prestasie-beurse ontvang. Sy internskap voltooi hy by Garakuwa Hospitaal, waarna hy saam met drs Wagner, Wagenaar en Prinsloo in Pretoria Noord in vennootskap gaan.
In 1977 verhuis die gesin na Thabazimbi waar hy na ‘n kort vennootskap by dr Piet van Zyl sy eie praktyk alleen bedryf vir 10 jaar. In daardie tyd was hy een van slegs drie geneeshere in die dorp. Hy was ‘n toegewyde medikus en het sy alles gegee vir sy pasiënte.
In 1987 sluit dr Willem du Plessis by hom aan. Saam het hul gepoog om vir Thabazimbi ‘n dagkliniek daar te stel, maar kon nie slaag om toestemming te verkry nie hoewel hul gebou en beplanning aan al die standaarde voldoen het.
In 1998 word hy deeltydse distriksgeneesheer en bedryf ‘n klein privaatpraktyk. Vanaf 2002 tree hy voltyds in diens van Thabazimbi Hospitaal waar hy gepoog het om in hierdie moeilike tye ‘n verskil te maak, veral vir die senior burgers.
Hy was baie betrokke by die gemeenskap en het as Christen gereeld op die kerkraad van sy kerk gedien. Hy het op Hoërskool Frikkie Meyer se Beheerliggaam gedien en was betrokke by die bloedoortappingsdiens en Rooikruis, noodhulp opleiding. Hy het op gemeenskapskomitees gedien, praatjies gelewer, hy was aktief by aktuele sake betrokke en is in 1989 as Stadsraadslid verkies en doen diens as Burgemeester in 1989/1990.
Hy was geliefd en sy heengaan laat ‘n groot leemte. Hy laat sy vrou, Susan, seun, twee dogters en vier kleinkinders na.
Die begrafnis vind vanuit die Afrikaanse Protestante Kerk, Thabazimbi op Maandag 9 November 2009 om 10:00 plaas.