Health

Meer in Thaba met varkgriep

Hennie Pauw

THABAZIMBI – Altesaam 7 bevestigde gevalle van varkgriep is in Thabazimbi aangemeld.
Hoewel sommige van dié sewe pasiënte reeds herstel het en daar nog onbevestigde gevalle is waarvan die uitslag nog onbekend is, blyk dit dat mediese versorgers nie die ophef oor varkgriep steun nie.
Daar is dus weer ‘n beroep gedoen op inwoners om nie oorboord te gaan nie en te aanvaar dat varkgriep uiteindelik maar net ‘n nuwe griepvorm is, soos elke paar jaar voorkom en meestal op dieselfde manier behandel word.
As gevolg van die histerie oor die siekte het baie mense as voorsorgmaatreël hulself of hul kinders laat toets sonder dat enige simptome ontwikkel het. Dit het veroorsaak dat ‘n bottelnek by toetslaboratoriums ontstaan het.
Kennisgewings is ontvang dat die nasionale laboratorium kapasiteit heeltemal oorskry is. Dit neem tans tot ‘n week om uitslae van toetse te bekom en die beskikbaarheid van reagense, wat in die toetsing benodig word, is besig om internasionaal ‘n probleem te word.
Dokters word versoek om toetsing te beperk tot ernstige siek pasiënte en simptomatiese swanger vroue. Dokters is ook aangeraai om nie behandeling te weerhou terwyl daar vir resultate gewag word nie.
In baie inligting wat die afgelope week op die radio, internet en media beskikbaar gestel is, blyk dat die aantal sterftes wat deur varkgriep veroorsaak word, steeds heelwat minder is as dié van gewone griep, wat sowat tussen 6 000 en 10 000 lewens in Suid-Afrika jaarliks eis. Soos enige ander griep is dit baie aansteeklik en elke nou en dan is die nuwe lid van die griepvirus-familie die oorsaak van ‘n pandemie.
Die virus word hoofsaaklik oorgedra wanneer ‘n geïnfekteerde persoon nies of hoes of wanneer daar aan oppervlakke geraak word waar virusse is, soos deurhandvatsels en daarna aan die oog, neus of mond te raak. Dit is waarom gereelde handewas die verspreiding van die virus help keer, maar nie stop nie. Ander voorsorgmaatreëls sluit in om die mond en neus met ‘n skoon snesie toe te hou wanneer daar genies of gehoes word en dit dadelik in die asblik te gooi.
Simptome wat varkgrieppasiënte het, sluit in skielike verskyning van koors, hoes, loopneus of toestuwing, seer keel, hoofpyn, lyfseer, kouekoors, moegheid en verlies aan eetlus.
Noodbehandeling is nodig wanneer probleme met asemhaling ondervind word, slegte gelaatskleur, voortdurende braking, onwilligheid om wakker te word en die terugkeer van koors en ander simptome na aanvanklike behandeling.
Enigeen wat die siekte het moet, vandat simptome verskyn tot sewe dae later of 24 uur nadat simptome verdwyn het (wat ook al die langste neem) kontak met ander mense vermy. Besoek ‘n dokter sodat die diagnose bevestig kan word. Toetse word veral gedoen op pasiënte met hewige simptome, simptomatiese swanger vroue en persone met griepsimptome met onderliggende siektes soos HIV, TB, kanker, longkwale, diabetes en asma.
As deel van die behandeling moet die pasiënt baie helder vloeistowwe inneem. Eetgerei kan in gewone warm seepwater gewas word. Na die hantering van besmette materiaal, en op gereelde basis, moet daar hande gewas word of met alkoholbasis handwaslappies hande afgevee word.
Verskillende voorspellings oor hoe lank die virus vanjaar sal voorkom, word gemaak. Sommige meen teen die lente sal die uitbraak afplat, terwyl ander voorspel dat die griep nog in die somer sal voorkom.
Daar is ook verskillende opinies oor die virulensie van die varkgriep volgende jaar. Sommige kenners meen dit sal minder virulent wees omdat die mens ‘n mate van immuniteit opgebou het, terwyl ander meen die tweede uitbraak altyd meer virulent is.