Slagoffers van busongeluk op die been
CHROMITE – Die twee dapper jong kinders van Bosveld Akademie, wat beide verlede Donderdag ‘n regterarm in ‘n gru-busongeluk verloor het, het reeds weer gesig gewys by die skool en beplan deelname aan skoolaktiwiteite hierdie naweek.
Anita Peens, 7 jaar oud en in Gr 1, het Dinsdag by haar skoolmaats vir ‘n rukkie gekuier voordat sy vir ‘n doktersondersoek gegaan het en later saam met haar gesin ‘n melkskommel gaan drink het.
Sy vertel opgewek dat sy reeds briefies begin skryf het met haar linkerhand en dat daar reeds ‘n nuwe tas (eintlik twee), potlode en boeke gekoop is – alles reg om volgende week weer terug te wees by die skool.
Fanie Esterhuizen, 11 jaar oud en Gr 5, beplan om sommer reeds hierdie naweek, saam met sy skoolmaats aan die N-Tvl se CVO skaakkampioenskap in Potgietersrus deel te neem. Sy pa, Willem Esterhuizen, sê hulle stem in; hulle dink dis goed dat hy besig bly.
Fanie het die afgelope week reeds besoek afgelê by ‘n fisioterapeut en ‘n sielkundige. Laasgenoemde het hy gou laat verstaan dat hy alles wat nodig was vertel het en nie meer haar dienste benodig nie. Baie soos hy aan die hospitaalpersoneel by Ferncrest verduidelik het teen Saterdag dat hy reg was om ontslaan te word.
Fanie het ook kopbeserings en snye aan sy been opgedoen tydens die ongeluk.
Beide die kinders se ouers aanvaar dat hulle kunsarms sal kry. Anita se arm is net bokant die elmboog geamputeer, terwyl Fanie s’n hoër op afgesit is. Volgens Fanie se pa help dit as daar bietjie meer lengte aan die geamputeerde armpie is om beweging van die prostese te vergemaklik.
Die omgewing is verlede Donderdag geruk met die nuus van die skoolbusongeluk net buite Thabazimbi by die T-aansluiting van Brits. ‘n Sterk vermoede bestaan dat die bestuurder van ‘n sedanmotor van Brits se kant af, nie by die T-aansluiting gestop het nie en voor die bus ingery het. Die bus het uitgeswaai en in die proses op sy sy beland en oor die pad geskuur.
Volgens die polisie word ‘n saak van roekelose en nalatige bestuur ondersoek, maar niemand is nog aangekla nie. Die bestuurder van die sedanmotor was nog die afgelope week in ‘n redelike ernstige toestand in die Thabazimbi Hospitaal en sal teen Vrydag (vandag) ontslaan word.
Volgens Sarel en Olga Peens, Anita se ouers, is hulle oortuig dat die gebruik van veiligheidsgordels in die bus die kinders se lewe gered het. Hulle is baie dankbaar dat die vorige busbestuurder altyd daarop aangedring het dat die kinders hulle vasgordel. Dit is blykbaar die gebruik by die Chromite-myn dat alle voertuigsitplekke van sitplekgordels voorsien word, selfs omgeboude mynvoertuie.
Beide Anita en Fanie het aan die slaap geraak in die bus voor die ongeluk plaasgevind het. Anita is redelik gou bevry na die ongeluk, maar Fanie kon eers onder die bus bevry word nadat van ‘n Vetter Bag, ‘n soort lugsak, gebruik gemaak is om die bus van die grond te lig.
Na die ongeluk is beide kinders na die Curamed Hospitaal geneem waar hulle gestabiliseer is. Anita het haar behandeling dan ook daar ontvang, terwyl Fanie na die Ferncrest Hospitaal in Rustenburg oorgeplaas is per ambulans van Thabazimbi Krisisbeheer.
Beide Anita en Fanie is deur hul ouers as braaf en dapper beskryf. Die feit dat hulle trots is op hoe die kinders die ongeluk hanteer het, is duidelik. Beide kinders is gretig om terug te gaan skool toe, beide het ‘n behoefte uitgespreek om te bid na die ongeluk en beide het weinig gekla en gehuil oor hul verlies.
Volgens Sarel Peens het die twee gesinne van die beseerde kinders baie goeie ondersteuning van hul werkgewers gehad. Op ‘n stadium was daar selfs ‘n helikopter op bystand om die kinders na ander hospitale oor te plaas.
Die ouers van die beseerde kinders is baie dankbaar vir die ongelooflike ondersteuning van hul werkgewers, die gemeenskap en die dienste wat ontvang is op die ongelukstoneel. Heel meeste, sê Sarel en Olga, is hul dankbaar teenoor die Here dat hul kind gespaar gebly is. Daar was ‘n vrou op die ongelukstoneel wat die kinders wat uit die bus geklim het, by haar in die motor laat sit het en gehelp het om hulle te kalmeer.
Bosveld Akademie het sy waardering uitgespreek teenoor die ambulansdienste en personeel, die dokters en verpleegsters van Curamed en Ferncrest Hospitaal, die personeel van Chromite en Impala myne, die inwoners van Chromite Village, beraders en predikante en skole en die gemeenskap in Thabazimbi vir hul oproepe en gebede. Die gemeenskap is welkom om Fanie se ouers te kontak by 073 158 9728 en Anita se ouers by 073 084 0786 vir bydraes tot die hulpfonds vir die kinders se prostese.