General

Wilky Bothma – Rus sag ou grote…

Wilky Bothma, geliefde en bekende inwoner van Setaria, is Vrydag in ‘n motorfietsongeluk oorlede.
Wilky Bothma, geliefde en bekende inwoner van Setaria, is Vrydag in ‘n motorfietsongeluk oorlede.

SETARIA – ‘n Jarelange en geliefde inwoner van Setaria, die 48-jarige Wilky Bothma, is Vrydag 12 Junie in ‘n motorfietsongeluk oorlede.
Hy was van Setaria na Northam op pad toe sy motorfiets op ‘n draai die pad verlaat het. Hy het van sy motorfiets afgeval en in ‘n duiksloot beland. Motorfietsry en -wedrenne was een van sy passies.
Wilky het in 1987 op Setaria aangekom en was reg aan die begin betrokke by die sink van Northam Platinum se skagte. Hy was sommer gou bemind en gerespekteer in die gemeenskap en hy het hom ook in die area bevind waarvoor hy `n intense liefde gehad het … die Bosveld.
In 1998 het Wilky en sy familie Kaap toe getrek en hulle, vir ‘n wyle, in Langebaan gevestig. Sommer gou was hy ook daar van die bekende gesigte en sy boot was welbekend op die Langebaan lagoon. Die verlange na sy wêreld het egter veroorsaak dat hy en sy familie hulle weer in die Bosveld kom vestig het en dit was gou duidelik dat hy hier in sy element was.
Volgens Wilky se dogter, Daleen Heyneke, is daar geen kort manier om Wilky te beskryf nie. Hy was `n man met `n passie en kennis vir sy werk en sy vordering op die myn getuig hiervan. Sy familie was altyd sy eerste prioriteit en aan dié wat dit sou waag om daar te krap, oppas! Vir hulle, vertel sy, was hy meer as `n eggenoot, pa, seun, broer, swaer of kollega. Hy was hul vriend en vertroueling.
Daleen sê dat `n mens hom net op sy plaas, BotHeyGro, moes dophou wanneer hy sy Nguni bekyk en trots elkeen se geskiedenis vertel, om te besef dat Wilky `n besonderse mens was. Hy was ook ‘n trotse Blou Bul, Ferrari en Honda ondersteuner, maak nie saak hoe sy spanne gesukkel het nie.
Volgens sy familie laat Wilky `n leemte agter wat niemand kan beskryf nie, maar hulle sal probeer om sy raad, om altyd moed te hou en nooit tou op te gou nie, te volg.
Wilky Bothma is Donderdag 18 Junie uit die NG Kerk Thabazimbi begrawe.