General

Wees versigtig met uitgee van inligting


Verskillende organisasies is betrokke by Kinderbeskermingsweek. Speurder-kaptein Colin Morris (vierde van links) het Thabazimbi besoek om oor die gevare van kletskamers te praat. Van links op die foto is Rika de Beer (Legae la Bona), Rachel Rossouw (SAVF), Kerry du Toit (reservis KBE Jhb), Morris, Linda Grobler (maatskaplike werker,  SAVF) en Danie Nortje (skoolhoof Bosveld Akademie). Voor sit konstabel Karlien Greeff (SAPD) en inspekteur Corné Myburg van die polisie se KBE.
Verskillende organisasies is betrokke by Kinderbeskermingsweek. Speurder-kaptein Colin Morris (vierde van links) het Thabazimbi besoek om oor die gevare van kletskamers te praat. Van links op die foto is Rika de Beer (Legae la Bona), Rachel Rossouw (SAVF), Kerry du Toit (reservis KBE Jhb), Morris, Linda Grobler (maatskaplike werker, SAVF) en Danie Nortje (skoolhoof Bosveld Akademie). Voor sit konstabel Karlien Greeff (SAPD) en inspekteur Corné Myburg van die polisie se KBE.

Hennie Pauw

THABAZIMBI – Tieners moet versigtig wees watter inligting hulle uitgee aan lede van kletskamers op selfone en die internet, het speurder-kaptein Colin Morris, polisiereservis en jare al betrokke by kinderbeskerming, aan hoër- en laerskoolleerders gesê tydens ‘n besoek aan Thabazimbi in Mei.

Morris, wat ‘n onderhoud op Thaba Stereo gevoer het en drie plaaslike skole besoek het, het op 22 Mei aan die leerders (en ouers) verduidelik dat daar wel mense in kletskamers is wat nie goeie bedoelings het nie, soos die 52-jarige man wat met twee 14-jarige dogters op Mixit bevriend geraak het terwyl hulle onder die indruk was dat hy self ‘n tiener was. Dié twee dogters het op ‘n later stadium by die man in die motor geklim, maar is gelukkig later weer opgespoor.

Morris het leerders ook gewaarsku teen die plasing van foto’s, kontakbesonderhede en adresse op die internet of selfone. Sy hoofboodskap is dat daardie inligting, sodra dit op geselskamers soos Facebook en Youtube beskikbaar gestel is, beskikbaar is vir elke Jan Rap en sy maat, en dat diegene met slegte motiewe daardie inligting mag aanwend vir daardie motiewe. Selfs indien die inligting weer verwyder word van die internet, is dit moontlik reeds afgelaai en in die hande van misbruikers. Hy het die leerders ook daaraan herinner dat foto’s en inligting soms aan vriende gegee word, wat miskien later dit misbruik wanneer ‘n verhouding suur word.

Hy het dit op leerders se harte gelê om iemand in hulle vertroue te neem indien hulle in die moeilikheid kom as gevolg van hierdie kletskamers.

Morris het gesê dat hy nie dink dat alles in verband met hierdie kletskamers en selfone sleg is nie. Kletskamers stel mense in staat om in verbinding te kom met mense wie hulle sou soek en ‘n selfoon het hulle al in staat gestel om ‘n kinderontvoerder op te spoor.

Gedurende Kinderbeskermingsweek van 1 – 6 Junie, waarvan Morris se besoek deel was, is daar weer baie klem daarop gelê dat kinders in die dorp die telefoonnommers ken van die polisie (014 777 3500), die noodpolisie (10111) en Kinderlyn (0800055555). Die persone betrokke by die ondersoeke na misdrywe teen kinders in Thabazimbi is inspekteur Corné Myburg (KBE oftewel Kinderbeskermingseenheid van die SAP) en Linda Grobler, SAVF maatskaplike werker (014 777 1093). Voorvalle kan ook aangemeld word by onderwysers, ouers of naskoolse instrukteurs.