Gholf by Amandelbult teen kanker
AMANDELBULT – Die tweede van vier gholfdae, aangebied deur Sanlam en ten bate van KANSA, vind Saterdag 6 Junie by die Amandelbult Gholfbaan plaas.
Die formaat van die kompetisie is Individuele Stableford. Kompetisies word ook gehou by Thabazimbi (13 Junie) en Swartklip Gholfbane.
Inskrywingsfooie vir die kompetisie beloop R55 per persoon en die mans- en vrouewenners van elk van die klubkompetisies kan ‘n duffelsak (eerste plek), steak-mes-en-vurkstel (tweede plek) en dubbelwynsak (derde plek) wen. Daar is ook ‘n lootjiewenner wat ‘ n strandstoel kan wen en TaylorMade gholfballe vir die afslaanhou wat die naaste aan die vlag land.
Wenners van die klubkompetisies kwalifiseer vir ‘n streekfinale in Augustus en die streekwenners kwalifiseer vir ‘n landswye kompetisie by San Lameer Country Club aan die KwaZulu-Natalse suidkus. Groot pryse is beskikbaar vir die wenner van die finale kompetisie.
Aangesien die gholfkompetisies as fondsinsameling vir KANSA dien, word daar ‘n wildveiling na afloop van elkeen van die plaaslike kompetisies gehou, waarvan die opbrengs aan KANSA geskenk word.
Vir enige verdere navrae oor die kompetisie kan Linda Prinsloo by 772 3066 X4 of 082 416 8059 geskakel word.