General

Verwarring oor vuurwapens

Hennie Pauw

THABAZIMBI – Groot verwarring heers tans onder sommige vuurwapeneienaars oor of hulle hul wapens moet inhandig aan die einde van Junie of nie, indien aansoeke vir nuwe lisensies nog nie aanvaar is nie.

Volgens ‘n direktief wat vroeër vanjaar deur die Polisie uitgereik is, verval alle vuurwapenlisensies wat onder die vorige wet uitgereik is, op 30 Junie vanjaar. Lisensiehouers wat heraansoek gedoen het onder die nuwe wet (Wet 60 van 2000) en wie se aansoeke in die proses is om verwerk te word, gaan nie noodwendig probleme ondervind nie maar wel met permitte om ‘n vuurwapen te berg.

Daar bestaan wel baie onsekerheid wat diegene te doen staan wat wapens wil oordra aan familielede, wat wapens geërf het uit boedels of wat wapens wil oordra aan besighede en handelaars.

Daar bestaan ook onsekerheid oor aan wie wapens oorhandig kan word wat gedeaktiveer word. Volgens die SA Jagtersvereniging kan vuurwapeneienaars tot 30 Junie 2009 vuurwapens by wapenhandelaars inhandig om verkoop te word of om gedeaktiveer te word of by die SAPD vir vernietiging.

Die kern van die verwarring oor vuurwapenlisensies lê by die uitvoering van ‘n direktief waarin alle lisensies en permitte wat onder die vorige wet uitgereik is, verval en geen voldoende oorbruggingsstelsel ingestel is nie, sê Willem Minnaar, opleidingsbeampte by die Thabazimbi-tak van die Suid-Afrikaanse Jagtersvereniging.

Teen einde Maart moes alle hernuwingsaansoeke ingehandig gewees het en van April tot Junie is geleentheid geskep vir eienaars en eksekuteurs van boedels  om wapens waarvoor nie hernuwingsaansoeke ingedien is nie oor te dra aan nuwe eienaars.

Deur sommige wapenopleidingsbeamptes word daar nou aan vuurwapeneienaars gesê dat hulle in besit van wapens kan bly, maar die polisie dring daarop aan dat wapens ingegee moet word vir bewaring tot tyd en wyl die administrasie afgehandel is.

Volgens Minnaar word daar binne die volgende week tot 10 dae ‘n afkondiging verwag wat klarigheid sal gee oor die onsekerhede.

Intussen beveel Minnaar aan dat huidige eienaars (nie diegene aan wie die wapen oorhandig sal word nie, maar wel diegene wat ‘n lisensie onder die ou wet besit) en eksekuteurs van boedels aansoek doen vir tydelike lisensies, vorm SAPS 518 “Application for a temporary authorization to possess a firearm”. Wanneer die vorm ingehandig word moet vuurwapeneienaars ook daarop aandring dat ‘n vorm (SAPS 523 – Acknowledgement of receipt of firearm documentation) deur die aangewese vuurwapenoffisier (AVO) ingevul en geteken word. Met hierdie vorm erken die AVO ontvangs van die aansoek om ‘n tydelike lisensie, en die aansoeker moet daarop aandring dat hierdie vorm beskikbaar gestel word.

Die tydelike lisensie sal die huidige eienaar in staat stel om die vuurwapen vir ‘n tydperk van 12 maande te behou. Indien die aansoek van die voornemende eienaar dan nog nie afgehandel is nie sal die tydelike lisensie vroegtydig hernu moet word.

Die aansoeke vir tydelike lisensies is nie spesifiek beskikbaar gestel vir hierdie oorbruggingstydperk nie en dit moet ook nie verwar word met die aansoek om ‘n vuurwapen te berg of stoor nie. Dit is moontlik dat die AVO weier om die vorms beskikbaar te stel of dit nie beskikbaar het nie. In daardie geval kan lisensiehouers hierdie vorm van die internet trek deur http://www.saps.gov.za te besoek. Volg hierna die aanwysings “Firearms”, “ Forms”, doen ‘n taalkeuse en soek dan vorms SAPS 518 en SAPS 523 op, en druk dit uit.

Hierna kan die vorms na die polisiekantoor geneem word, waar vuurwapeneienaars hopelik gehelp sal word.