Geliefde inwoner oorlede
THABAZIMBI – Antoinette Swanepoel ‘n jarelang inwoner en vrou wat diep spore in haar medemens se harte gelaat het is na ‘n kort siekbed op Maandag 11 Mei 2009 in Meulmed hospitaal te Pretoria oorlede.
Antoinette was getroud met Jood Swanepoel, en uit hul huwelik is 2 kinders gebore, Juanette en Edward. Antoinette was vroeër jare hoof van die plaaslike speurtak van die SAPD Thabazimbi en is in haar amp later bevorder tot kaptein. Na sy die diens verlaat het, het sy die Glomail winkel op die dorp geopen. Sy was ook betrokke by liefdadigheidsorganisasies soos Aksie Vrouekrag. Hier het sy baie fondsinsamelings projekte geloods, was sy betrokke by die ouetehuise sowel as by Tambotie versorginseenheid.
In 2007 is sy as een van die finaliste vir Thabazimbi Vrou van die Jaar aangewys. ‘n Vrou so opreg van hart met die mooiste glimlag en wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie. Vir haar het haar man en kinders eerste gekom.
Sy laat haar familie en vriende agter wat haar baie gaan mis.
Die roudiens vind op Vrydag 15 Mei om 11 uur plaas vanuit die Gereformeerde Kerk Thabazimbi. Die familie wil graag van hierdie geleentheid gebruik maak om hul dank en waardering uit te spreek teenoor al die vriende en kennisse vir hul ondersteuning en bystand in hierdie hartseer tyd.