Silwer vir Frikkie Meyer
THABAZIMBI – Die Suid-Afrikaanse atletiekkampioenskap vir hoërskole het op 5-7 April te Durban plaasgevind.
Sanlie van den Brink, Frikkies atleet, het tydens hierdie kampioenskap Limpopo se naam hoog gehou. Sy het die tweedeplek in die 400m hekkies, dogters 0/19 behaal en gevolglik die silwer medalje ingepalm. Dit was die hoogste individuele prestasie in die Limpopo-span.
Sanlie het ‘n baie goeie seisoen gehad en het veral tydens die jaarlikse interhoër-atletiekbyeenkoms te Hoërskool Hans Strydom, Mookgophong (Naboomspruit) uitgeblink. Hier het sy in al drie haar items eersteplekke behaal en in die 100m hekkies die rekord gebreek.
Sy skryf haar sukses toe aan die ondersteunende afrigting van mev Elbie de Kock, lojale ondersteuning en ure se toewyding en harde werk. Die Frikkies kan met reg trots wees op hierdie prestasie.