EntertainmentGeneralSport

Thabazimbiërs stap saam met dolfyne

Dié groep stappers van Thabazimbi het die afgelope vakansie die Strandloper Staproete in die Oos-Kaap aangedurf. Agter van links is Ansa van den Berg, Magda Augen, Elsebie en Lukas van Aswegen, Yolanda van der Berg en Werner van den Berg. Voor sit Gerrie van den Berg, Annes Momberg en Albert Augen.
Dié groep stappers van Thabazimbi het die afgelope vakansie die Strandloper Staproete in die Oos-Kaap aangedurf. Agter van links is Ansa van den Berg, Magda Augen, Elsebie en Lukas van Aswegen, Yolanda van der Berg en Werner van den Berg. Voor sit Gerrie van den Berg, Annes Momberg en Albert Augen.

THABAZIMBI – Sewe stappers van Thabazimbi, en twee van Hartebeespoort, het tussen 31 Maart en 4 April die Strandloper Staproete tussen die Keiriviermond en Gonubie, in die Oos-Kaap, gaan stap.
Weens die gewildheid van die roete moes reeds ‘n jaar vooruit bespreek word. Die tog Oos-Kaap toe vanaf Thabazimbi, is op 27 Maart aangepak, en op pad is by twee bekende besienswaardighede aangedoen. Die bekende Howick-waterval naby Pietermaritzburg, was die eerste stop en daarna is daar by die bekende “Hole-in-the-Wall”, naby Koffiebaai, vir een nag oorgeslaap.
‘n Baie opgewonde groep stappers het die staptog begin op 31 Maart in reënerige weer. Die roete is nie ‘n fisies uitdagende roete nie, maar dit was sommer op die eerste dag al duidelik dat mens stapfiks moet wees om dit te geniet, omdat gemiddeld 15 km per dag gestap moet word.
Altesaam 99% van die roete is op die strand of op die rotse bokant die strand, van waar ver oor die see uitgekyk kan word. Gevolglik is die see altyd deel van die onmiddellike omgewing.
Selfs die oornaghutte is feitlik op die strand. Daar kon dus ‘n paar dae, na ‘n vol dag se stap, in die see geswem word om af te koel. Omdat die grootste gedeelte van die roete deur natuurreservate is, het die stappers die see by meeste van die oornaghutte “vir hulle self” gehad.
Ten spyte van die afgesonderdheid van die roete, kon die stappers byna elke dag by kusdorpies se winkels, restaurante of hotelle aandoen, om proviand aan te vul of aan te sit vir ‘n ete. Dit maak  die roete nogal anders as ander staproetes.
Die roete is op ‘n hoë noot afgesluit op die laaste dag waar twee riviere oorgesteek moes word – heelwat minder as die gebruiklike agt riviere vir dié staproete. Weens die swak rëenseisoen wat die Oos-Kaap gehad het, was daar egter slegs twee riviermonde oop. Omdat al die stappers redelike ervare stappers is, was almal egter goed voorbereid vir enige gebeurlikheid.
Stappers wat belangstel om saam met ‘n groep te gaan stap is welkom om die Thabazimbi Stapklub voorsitter, Hugo Coetzee, by (014) 777 4680 (w) of (014) 772 1836 (h) of 082-562 5774, te skakel vir enige navrae.