Kennis bewapen renostereienaars
THABAZIMBI – Private renostereienaars moet hulself organiseer om uitdagings soos wildstropery en wetgewing wat renosterjag beïnvloed, aan te spreek. Alle eienaars en belangstellendes word genooi om ‘n renoster-inligtingsdag op Woensdag 6 Mei om 11:00 by Thaba Tholo by te woon. Dit word deur die WRSA (Wildbelangegroep SA) aangebied.
Die sprekers tydens die geleentheid is kapt Herman Lubbe van die Modimolle Veediefstaleenheid, Simon Roodt van Inkwe Sekuriteite, wat spesialiseer in beveiliging van plase en Rubin Els van Thaba Tholo.
Daar sal veral klem gelê word op die metodes wat sindikate gebruik om renosters te jag, die sekuriteit rondom renosters en die mobilisering van renosterseienaars as ‘n groep.
Ten spyte van die inhegtenisname van 14 en vonnisoplegging van 1 renosterstroper sedert die begin van vanjaar lê daar nog groot werk voor vir alle renostereienaars saam met die polisie se veediefstaleenhede landwyd, lui ‘n artikel in die “Wildlife Ranching”, amptelike spreekbuis vir die WRSA.
Kennis is die belangrikste wapen van wildboere om hulle self te bemagtig en te organiseer dat hulle nie onverhoeds betrap word deur goed georganiseerde sindikate, meen sommige wildboere.
‘n Sentrale databasis van renostereienaars, sowel as kommunikasiestelsel, moet ontwikkel word sodat renostereienaars mekaar kan inlig oor sindikate wat in areas werksaam is en ‘n lobby-groep kan vorm wat hulle bedryf verteenwoordig en help beskerm.
Tans word daar oorweeg om die witrenoster se bewaringstatus te verhoog na dié van ‘n bedreigde spesie, wat wesenlike implikasies inhou vir private renostereienaars. Daar sal ‘n verbod geplaas word op die handeldryf en vervoer van renosterprodukte en geen jag van renosters sal toegelaat word nie.
Hierdie wetgewing mag beteken dat witrenosters sy finansiële waarde vir wildboere verloor, en uiteindelik dat die witrenoster se getalle nog verder sal daal.
Enigeen wat belangstel om die renoster-inligtingsdag by te woon kan Lisa Uys by die WRSA skakel op 012 335 6994. ‘n Bedrag van R50 is betaalbaar, aangesien middagete en verversings verskaf sal word. Vir verdere navrae oor die dag self kan Herman Barnard, voorsitter van Thabazimbi Wildbelangegroep by 082 335 6441 of 014 772 2628 of per e-pos herman.barnard@era.co.za.