Cholera bedreig steeds

Elana Greyling
 
Met die inhuldiging van ‘n nuwe premier en nuwe politieke sisteem in Zimbabwe, is die aandag van die wêreld afgelei van die cholera-probleem.
Na die aanvanklike byna paniekerige reaksie op die uitbraak van cholera, het die kwessies, soos soveel ander in die geteisterde land, ‘n stille dood gesterf. Met ‘n dringende Suider Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap-seminaar pas agter die rug in Pretoria, het nie veel daadwerklike aksies gelei tot enige blywende oplossings nie. Meer as 10 000 mense is reeds in Suid-Afrika behandel en byna 60 is reeds hier oorlede.
Buitelandse hulp het wel ingestroom, maar siekes, verswaktes en sterwendes stroom nog steeds oor die grens Suid-Afrika binne.
Teen die middel van Desember het Agri Limpopo met die ondersteuning van Agri SA samesprekings met die LUR van Landbou, me Dikeledi Magadzi en verteenwoordigers van haar departement gevoer om ‘n gesamentlike strategie te formuleer.
Die Departement van Landbou het die feit beken dat die siekte vanuit Zimbabwe ontstaan het en oorgedra word en dat dit daarom noodsaaklik is om dit by die oorsprong te bestry.
Daar is saam besluit oor maatreëls wat ingestel kan word om die verspreiding van die siekte in Suid-Afrika te beperk. Die sukses wat hiermee behaal is, is egter onder verdenking aangesien gevalle reeds buite Limpopo so ver as Mpumalanga bevestig is. Intussen styg die dodetal in Zimbabwe en presiese syfers aan Suid-Afrikaanse kant is ook moeilik bevestigbaar.
Wat wel bevestig kan word, is die feit dat geen gevalle van cholera onder plaasbewoners, -werkers en boere aangemeld is nie. Volgens mnr Francois van den Berg, president van Agri Limpopo, is dit ‘n bewys dat boere na hul werkers omsien en dat waterbronne op plase onbesmet en veilig is.
Daar was kommer oor groente wat teen die Limpopo-rivier verbou is, maar nadat die groot markte toetse begin doen het, is bevind dat geen groente afkomsitg uit Limpopo besmet is nie. Een van die moontlike redes is die feit dat daar baie min produkte gedurende hierdie tyd van die jaar verbou word in die dele waar die siekte reeds versprei het.
Volgens mnr Hannes Nel, voorsitter van Agri Weipe begin hulle eers in Maart met aanplantings. Water word tans weekliks getoets. Volgens mnr Kobus Strydom, voorsitter van Agri Njelele is die risiko baie laag dat produkte besmet kan word. Hulle produseer uitvoer sitrus en spanspekke en waatlemoene vir uitvoer in verwerkte vorm. Babagroentes en suikermielies word ook in die gebied geproduseer. Praktyke is ook reeds lankal in plek op groot kommersiële plase om enige verspreiding van siektes te voorkom, dit is ook effektief teen cholera.
Volgens Van den Berg word die toestand fyn dopgehou en kan verbruikers verseker wees dat landbouers bewus is van die gevare en daarvolgens handel. Enige navrae kan gerig word aan die Agri-kantoor by 014-7631888  Landbou by 015-2943000 of direk by Tembe Makhuvele (0828035648).