General

Plaaswerker van die Jaar kompetisie geloods

Elana Greyling
 
LEPHALALE – Lephalale het in 2008 die eerste suksesvolle Plaaswerker van die Jaar kompetisie in Limpopo aangebied. Die kompetisie word aangebied as ‘n gesamentlike projek van die plaaslike Departement Landbou, Agri Lephalale, Ellisras DLU en Nafu. In 2008 is die oorhandigings waargeneem deur die LUR van Landbou, me Dikeledi Magadzi.
Boere en plaaswerkers bevestig dat die kompetisie baie vir hulle beteken het. “Dit het ‘n groot verskil aan die verhouding en gesindheid tussen ons gemaak,” vertel mnr Daan Erasmus, ‘n boer uit Lephalale. Elke deelnemer het ‘n sertifikaat ontvang en die eerste vyf plekke het groot pryse ontvang.
Vanjaar se kompetisie beloof om net so ‘n groot sukses te wees. Inskrywingsvorms is reeds beskikbaar by kantore van georganiseerde landbou en die Departement. ‘n Eerste plek prys van R 5 000 word geborg deur Agri Lephalale, wat ook ‘n R 2000 gelukkige trekking vir die werkgewer borg wat ‘n werker inskryf. Die prysuitdeling word beplan vir 13 Mei met ‘n interessante hoofspreker.
Die voorsiiter van die komitee, Dr Lolly Fourie is vol moed dat hierdie kompetisie verlede jaar se hoë standaarde sal oortref. Enige werkgewer binne die Lephalale munisipale gebied kan ‘n werker inskryf in kategoriee wat wissel van pluimvee, saaiery, bees- en wildboerdery. Navrae kan gerig word aan 014-7631888.