Prysuitdeling: Hoërskool Frikkie Meyer
THABAZIMBI – Hoërskool Frikkie Meyer se prysuitdeling vir prestasies wat in 2008 behaal is, is Vrydagaand 16 Januarie gehou. Tydens hierdie mooi geleentheid waar leerders erkenning ontvang het vir prestasies wat gelewer is op akademiese-, kultuur- en sportgebied is ‘n paar baie spesiale toekennings ook gemaak.
Elzaan en Eliza Janse van Rensburg is vereer vir die 7 onderskeidings wat elkeen in die Gr 12 eindeksamen ontvang het. Elzaan is 8ste in die Limpopo Provinsie en is ook aangewys as Hoërskool Frikkie Meyer se Duxleerling 2008. Haar gemiddeld in die eindeksamen was 91% en Eliza se gemiddeld 90%.
Die volgende leerders het trofeë ontvang vir die beste akademiese prestasie in hulle onderskeie graadgroepe:
Elizna Coetzee – Graad 8, Natasha van Tonder – Graad 9, Anda Lee – Graad 10 en Sanlie van der Brink – Graad 11.
Op kultuurgebied het Amanda Venter met die louere weggestap deur die volgende toekennings te ontvang: Beste leerder van die jaar in Uitvoerende kunste, Toneelspeler van die jaar en Kultuurleerder van die jaar
Twee spesiale toekennings naamlik die Luiperd-toekenning en die Lourier-toekenning is ook gemaak.
Die Luiperd-toekenning word gemaak aan die leerder wat die meeste punte vir betrokkenheid by skoolaktiwiteite gedurende die jaar verwerf het. Die toekenning word gedeel deur Juan Brits en Lize de Villiers
Die Lourier toekenning word gemaak aan ‘n graad 12 leerder wat gedurende sy/haar hoërskoolloopbaan betrokke was en uitsonderlik presteer het op die gebiede van: Akademie, sport, kultuur, leierskap en gemeenskapsbetrokkenheid. Hierdie uitsonderlike toekenning is vir 2008 gemaak aan die hoofdogter van Hoërskool Frikkie Meyer, Lize de Villiers.