VAALWATER – Vyf verdagtes is op Kersdag 25 Desember 2008 gearresteer te Vaalwater in die Limpopo Provinsie deur lede van Modimolle Veediefstaleenheid, Vaalwater SAPD en Bulgerivier SAPD na ‘n vlaag van wilddiefstal waartydens verskeie renosters doodgeskiet of gewond is.
Berig is ontvang dat die verdagtes, almal deel van ‘n sindikaat wat renosterhorings smokkel, gepoog het om ‘n renoster in die Melkrivier omgewing te skiet sonder sukses. Tydens die arrestasie, waar lede van die publiek van Vaalwater ‘n groot rol gespeel het, is beslag gelê op ‘n ongelisensieerde .303 jaggeweer en ‘n AK47 geweer.
Die optrede op Kersdag spruit uit ‘n ondersoek deur SANPARKE en Mpumalanga Georganiseerde Misdaadeenheid te Middelburg nadat meer as 20 renosters vroeër gedurende 2008 in die Krugerwildtuin onwettig gejag en die horings verwyder is. Verdagtes is deur ondersoekbeamptes van SANPARKE geidentifiseer en inligting is deur die Veediefstaleenheid lede van Modimolle en Thabazimbi opgevolg wat tot die arrestasie gely het.
Nog verdere drie Mosambiekse burgers en drie Chinese kopers is in optredes gearresteer wat deel van hierdie sindikaat uitmaak. Beslag is nog verder gelê op twee ander .303 gewere en ‘n AK47. Altesaam elf verdagtes is gearresteer en het reeds in die hof verskyn.
Sake deur die kantoor verbind met die sindikaat spruit voort uit ses renosters wat onwettig gejag is te Sable Ranch in Brits, twaalf renosters gejag te Thaba Tholo te Thabazimbi en 20 renosters gejag in die Orpen area in die Kruger Wildtuin.
Gedurende Desember 2008 het twee verdagtes van hierdie sindikaat gepoog om ‘n renoster te skiet op die plaas van Mnr Jaco Kruger te plaas Tobiaszynloop (Batshumi Game Farm), Naboomspruit, maar gelukkig was die verdagtes se poging nie suksesvol nie.
