Ons lesers skryf: Vuurwerke = Dieremishandeling
Brief: Marieta Barnard
Dit was alweer daardie tyd van die jaar. Dieremishandeling het weer hoogty gevier.
Wat is dan fout met die mens dat hy nie kan sien dat die klapgeluide wat uit die vuurwerke kom die diere heeltemal beserk maak nie? Wanneer gaan hulle besef dat die arme diere se ore so uiters sensitief by die aanhoor van die geluide is dat dit hulle heeltemal mal maak en dan raak hulle ook totaal en al buite beheer?
Is dit vir die gebruikers van die vuurwerke dan reg om te sien dat diere weghardloop oppad na nêrens, in swembaddens verdrink, teen mure of enigiets anders probeer uitklim om uit pure desperaatheid weg te kom van die gevaar af. Die arme dier beseer homself in so mate dat sy beserings ly tot verlamming en ander probleme en hy is vir die res van sy lewe afhanklik van mediese behandelings en medikasie. (Uitsit is al opsie en dit deur die toedoen van gevoellose mense). Is dit die norm vir opgevoede mense? (En moenie die verskriklike veeartsrekeninge vergeet wat die onskuldige eienaar van die diere moet betaal nie!).
Kan daar niks aan die saak gedoen word nie? Waarom word winkeleienaars nie beboet vir die besit van vuurwerke nie? Is daar dan niks anders waarmee hulle kan geld maak nie? Maar bo dit alles, waarom ondersteun die gemeenskap die winkels en straatsmouse wat dit verkoop? Waar is die mens se lojaliteit en jammerhartigheid teenoor die arme diere?
Is daar nie ‘n wet wat die skiet van vuurwerke in die publiek verbied nie? Wat het geword van ‘n georganiseerde vuurwerkvertoning?
Ek vra maar net.