Jong man beseer in kop-aan-kop botsing
THABAZIMBI – ‘n Een-en-twintigjare jong man van Thabazimbi, Andries Els, is Dinsdagmiddag net voor 16:00 ernstig beseer na ‘n ongeluk sowat 25km suid van Thabazimbi op die Northam-pad.
Die bestuurder van die Bantam-bakkie het, volgens ooggetuies, ‘n bus probeer verbysteek op ‘n draai en sperstreep in die rigting van Thabazimbi. ‘n Kia-bussie het van voor gekom en beide het eers na buite en weer saam na binne geswenk om die ongeluk te probeer vermy, maar dit was onsuksesvol en ‘n botsing het plaasgevind. Die bus het aangery.
Die bestuurders was die enigste insittendes in beide voertuie. Altwee bestuurders was vasgepen in hul voertuie en moes deur verkeersbeamptes en paramedikus Henk Havenga met saag-apparaat uit die voertuie losgesny word.
Els is na die Curamed Hospitaal geneem met veelvuldige laserasies, ‘n hoofbesering en ‘n breuk in sy regter bobeen. Hy is kort na sy opname oorgeplaas na die Peglaray Hospitaal in Rustenburg.
Die bestuurder van die Kia-bussie, ene Hannes Swart (35), was onderweg tussen Ellisras, waar hy aflewerings gedoen het, en Ventersdorp, waar hy tuisgaan en werk. Hy het ‘n enkelfraktuur opgedoen, maar is reeds Woensdagoggend deur familie teruggeneem Ventersdorp toe.
‘n Klag van Roekelose en Natalige Bestuur word deur die polisie ondersoek.