THABAZIMBI – ‘n Vragmotor met 15 000 stene is verlede Woensdag 14 Januarie op die Brits-pad naby Koedoeskop gekaap, maar die volgende dag teruggevind sonder vragverlies kort voordat dit waarskynlik oor die grens sou verdwyn. Niemand het seergekry nie.
Die vermoede bestaan dat ‘n sindikaat by die kapings betrokke is, aangesien die kaping berekenend uitgevoer is en ‘n aantal soortgelyke gevalle in dieselfde gebied voorgekom het en dieselfde modus operandi gevolg is.
Die vragmotor, ‘n “superlink”, met twee sleepwaens, van Koedoeskop Stene was Woensdag omstreeks 12:30 op pad terug van Pretoria met ‘n vrag stene, toe die bestuurder, Francois Roux, en die kraandrywer, Charlie Monyeki, deur ‘n verbygaande voertuig beduie is dat die vragmotor ‘n pap wiel het.
Toe dit veilig is, het Francois afgetrek om ondersoek in te stel. Hy het om die vragmotor geloop en toe hy die agterkant bereik, is hy oorval deur vyf mans in ‘n voertuig, wat die vragmotor so naby agtervolg het dat dit nie opgemerk was nie. Hy is met ‘n vuurwapen aangehou en hy en Charlie, wat die vrag bo-op die vragmotor inspekteer het, is met die dood gedreig as hulle sou probeer wegkom.
Twee van die vyf mans het die vragmotor onmiddellik wegbestuur en Francois en Charlie is in die motor gedwing, hul selfone weggeneem en daar is met hulle weggery in die rigting van Brits en later die Northam-pad. Nadat die Rustenburgpad bespied is, is hulle terug en in die omgewing van Pylkop sowat 200m die veld ingeneem. Die twee aangehoudenes was oortuig daarvan dat die kapers hulle sou skiet. Hulle is egter vir twee ure in die son laat lê en daarna het die kapers padgegee.
Teen 16:30 Woensdagmiddag het Francois Koedoeskop Stene laat weet van die kaping en ‘n noodberig is kort daarna oor Thaba Stereo uitgesaai. Boere in die Koedoeskopomgewing het dadelik reageer en rapporteer dat spore op die Koedoeskop-Northam-pad opgetel is. Die opsporingtoestel is op hierdie pad, waarskynlik in die ry, verwyder en uit die vragmotor gegooi, maar is nog nie gevind nie.
Die agterste sleepwa is met sy volle vrag teruggevind die volgende dag nadat ‘n inwoner van Tekwane, ‘n voorstad van Rustenburg, Koedoeskop Stene gekontak oor die afgehaakte sleepwa wat voor haar huis geparkeer was. Die kontakbesonderhede op die sleepwa het haar in staat gestel het om die eienaar op te spoor.
Die vermoede bestaan dat die sleepwa ontkoppel is omdat dit die spoed van die vragmotor beperk het. Blykbaar is die Nissan UD460, die maak van die gekaapte vragmotor, ‘n gewilde perd, omdat dit nie oorgeëlektronifiseer is nie en omdat sy brandstofverbruik goed is.
Daar is vermoed dat die vragmotor op pad Zeerust toe was om daarvandaan oor die grens geneem te word. Polisiebeamptes in die gebied het die vragmotor Donderdagaand ongeveer 20:00 in Koster opgespoor, waar dit oënskynlik gereed gemaak is om aan ‘n ander sindikaat oorhandig te word. Alle name en logo’s is van die perd verwyder en geen vingerafdrukke kon gevind word nie. Daar was ook geen brandstof in die vragmotor nie.
Toe die polisie op die vragmotor afkom het die kapers vinnig in die bosse verdwyn en niemand is tot op hede in hegtenis geneem nie. Die saak word tans ondersoek deur die Georganiseerde Misdaad Eenheid in Polokwane.
Volgens die eienaar van Koedoeskop Stene, Freddie Nel, is hy en sy personeel baie dankbaar teenoor al die hulp wat hulle tydens die kaping ontvang het, veral van die boere in die Koedoeskop-area wat so vinnig reageer het asook die polisie-eenhede van Assen, Northam en Thabazimbi wat baie vinnig by die kapingstoneel opgedaag het.
